Model doodgeskiet in huisroof

 ’n Fiksheidmodel is Sondagaand in haar huis in Midrand doodgeskiet.

Vier rowers het Susanne Keil (45) en haar vriend, Richard Via, in haar huis in Kyalami oorval terwyl hulle TV gekyk het.

Toe Keil op die rowers skreeu, het hulle haar geskiet. Hulle het Via na die slaapkamer gejaag en hom daar vasgebind.

 Keil is op pad hospitaal toe dood.

Volgens ao. Moses Maphakela, polisiewoordvoerder, het vier verdagtes by die huis gebreek. “Hulle het elektroniese toestelle en toebehore geneem en gevlug.”

Keil se beste vriend, Ziad Nour, beskryf haar as ’n wonderlike persoon wat baie lief was vir ander mense.

In ’n Facebook-inskrywing het Nour geskryf: “Ek en almal wat jou vriende was, sal jou baie mis, my pragtige vegter. Ons is so baie lief vir jou. Jy het ’n groot hart en ’n groot siel gehad, maar ons sal weer in die volgende lewe ontmoet.”

Lauren Wentzel skryf op Facebook: “Dit is ’n hartverskeurende werklikheid dat daar mense is wat nie tevrede kan wees net om ’n mens se besittings te steel nie, maar ook onskuldige lewens neem. Susanne Keil, jy het my in die hart getref toe ek jou vir die eerste keer op die verhoog gesien het. Ons het net ’n paar keer ontmoet, maar jou tragedie sal in my gedagtes bly spook.”

Die polisie wou nie meer oor die voorval sê nie omdat hulle nie die ondersoek wil belemmer nie.

Aanklagte van moord en huisroof word ondersoek.

Nog niemand is in hegtenis geneem nie.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!