Moetie Maand- Vrou van Grabouw word vir dood agtergelaat na aanranding en verkragting

‘n Jong vrou (22) van Beverley Hills in Grabouw is Vrydag ’n week gelede wreed aangerand, verkrag en daarna vir dood agtergelaat.

DIE een oomblik was sy nog besig om te loop. Die volgende oomblik skrik sy wakker in ’n hospitaalbed met ’n geskeurde baarmoeder en pelvis.Haar longe is ook beskadig soos wat daar in haar ingewande gekrap is. Haar hele lyf is oortrek met rou wonde. Sy moes ook ARV’s gebruik om te verhoed dat sy die groot griep opdoen.

Die voorval het omstreeks 20:00 in die Tsotsombeni-plakkerskamp plaasgevind.

As dit nie vir ’n vrou was wat haar die volgende oggend langs die paadjie op ’n koppie gekry het nie, sou sy nie vandag gelewe het nie, sê sy.

Die vrou, wat sedert die voorval al twee keer in en uit die hospitaal was, kan steeds nie onthou wat met haar gebeur het nie.

Slegs die verslag van die dokter het haar ingelig wat eintlik met haar gebeur het.

Die vrou vertel: “Ek het my gewas en aangetrek.

“Dit was nog vroeg, so 20:00 se kant, maar reeds donker. Ek het die huis verlaat en na die Rooidakke toe geloop.
“Daarna weet ek glad nie wat gebeur het nie.”

Die vrou sê al wat haar aan daardie nag herinner is die pyn en die angs wat sy nou deurmaak.

Sy verduidelik: “Wanneer ek loop, voel ek seer van binne.
“Ek raak dan naar en duiselig en wil opgooi.

“Daar moet mense wees wat gesien het wat gebeur het.”

Volgens die vrou was die polisie nog nie een keer by haar nie.

’n Inwoner het aan Son gesê dat dit die afgelope twee maande glo “moetie-maand” was.

Die vrou beweer dat haar dogter by die skool ingelig is dat ’n 13-jarige meisie glo “geslag” is dieselfde naweek wat die vrou aangeval is.

Die inwoner sê: “Die polisie het die mense gewaarsku om weg te bly van Moonlight (’n plakkerskamp) af.
“Dis nou die laaste week van moetie-maand.”

Die polisie het nie op Son se navrae gereageer nie.

Bron: Son


Enjoyed this post? Share it!