Moody’s bevestig dat ‘Skip SA’ nié sink

sinking shipDawie Roodt: Moody’s bevestig dat ‘Skip SA’ nié sink

‘Skip Suid-Afrika’ is nié vol gate nie – die bemanning is dalk net verkeerd en die skip ry dalk in die verkeerde rigting.

Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group het só gereageer op die kredietgradeerder Moody’s Investors Service se besluit om Suid-Afrika se soewereine gradering onveranderd te laat op twee vlakke bo rommelstatus.

Roodt sê tot en met die uitspraak van die konstitusionele hof dat pres. Jacob Zuma wel van die geld vir die opgradering aan Nklandla moet terugbetaal, was hy bekommerd dat Skip Suid-Afrika wél aan die sink was.

Hy is egter saam met Moody’s verlig dat daar tekens is dat Suid-Afrika se instellings wel onafhanklik is en hul werk doen. “Ek was baie verlig oor die uitspraak, maar veral die reaksie daarop – die feit dat almal die uitspraak aanvaar het, is ’n baie goeie teken.”

Keerpunt

Suid-Afrika se ekonomie het ná verskeie jare van dalende groei dalk nou ’n keerpunt bereik, is die mening van die Moody’s in ‘n verklaring wat Vrydagnag uitgereik is.

Roodt sê Moody’s se besluit om die vooruitsig van stabiel in negatief te verander, is op sigself slegte nuus. Dit kan ’n voorspel tot ’n latere afgradering wees en dui op hoë risiko’s in die ekonomie.

Die rand het Vrydagnag in ’n stadium tot selfs R14,69 per dollar versterk, maar het intussen weer teruggesak tot R14,88.

ONLANGSE POLITIEKE ONTWIKKELINGE, HOEWEL ONTWRIGTEND, GETUIG VAN DIE ONDERLIGGENDE KRAG VAN SUID-AFRIKA SE INSTELLINGS.

Die agentskap bevind ook “onlangse politieke ontwikkelinge, hoewel ontwrigtend, getuig van die onderliggende krag van Suid-Afrika se instellings”.

Moody’s loof die ANC-leiers wat in Desember ingegryp het om te verseker dat “ ’n gerespekteerde voormalige minister van finansies”, Pravin Gordhan, heraangestel word nadat Zuma vir Nhlanhla Nene met die onbekende Des van Rooyen vervang het.

Moody’s sê die konstitusionele hof se bevinding teen die president oor die misbruik van openbare geld, asook die bevinding van die hooggeregshof dat korrupsieklagte teen hom heringestel moet word, bewys die mag en onafhanklik van Suid-Afrika se Grondwet en regstelsel.

“Die plaaslike-regeringsverkiesings gaan die lakmoestoets wees of en hoeveel dié ontwikkelinge die ANC se steun onder kiesers weggekalf het.”

Fiskale dissipline

Moody’s was in Maart in Suid-Afrika om inligting in te win oor die land se ekonomie en veral die staat se verbintenis tot fiskale dissipline.

Moody’s gradeer Suid-Afrika se skuld nog twee vlakke bo rommelstatus, maar enige afgradering sou vertroue in die land as beleggingsbestemming geskaad het.

Die graderings waarvoor almal steeds asem hou, kom eers in Junie, wanneer Fitch Ratings en Standard & Poor’s besluit of hulle staatskuld tot rommelstatus afgradeer.

Moody’s sê dit lyk asof die staat se 2016-’17-begroting en die mediumtermyn- fiskale plan uiteindelik staatskuld sal stabiliseer en uiteindelik verminder.

Risiko’s

Die negatiewe vooruitsig word toegeken omdat daar wel risiko’s is dat die regering nie die strukturele en wetlike hervorminge sal kan deurvoer waarop die regering, sake- en arbeidsektor onlangs ooreengekom het om vertroue in die land te herstel nie.

Dié hervormings is vir Moody’s bepalend vir die land se ekonomiese groei en fiskale konsolidasie.

Roodt sê hoewel Gordhan onder die omstandighede die beste persoon in dié pos is, beskou hy Suid-Afrika se fiskale posisie as ’n “nagmerrie”.

Dít ondanks Moody’s se betreklik positiewe opmerkings oor die Februarie-begroting.

“Die somme lyk nie goed nie,” sê Roodt.

Ekonomiese groei

Moody’s verwag dat die ekonomie sal herstel ná die 2016-laagtepunt omdat verskeie skokke wat die ekonomie sedert 2014 onderdruk, aan die taan is. Dit sluit in die kragvoorraad, wat nou baie betroubaarder is; die einde van die droogte; en die feit dat minder werkdae deur stakings verlore gaan.

Die vooruitsig vir inflasie is ook beter, wat daarop dui dat die Reserwebank dalk minder rentekoersverhogings sal moet instel as toe die Reserwebank verlede jaar selfs 8% teen einde 2016 voorspel het.

Moody’s verwag dat ekonomiese groei in die tweede helfte van 2016 beter sal lyk as in die eerste helfte. “Hoewel ons verwag dat die ekonomie in 2016 met net 0,5% sal groei, verwag ons dat groei in 2017 tot 1,5% sal styg.”

Roodt is dit met Moody’s eens dat ekonomiese groei ’n draaipunt bereik het, maar waarsku dat dit bloot is omdat die land van ’n baie lae basis groei – dus is dit bloot ’n tegniese verbetering.

Beloftes

Moody’s sê dit bly belangrik dat die staat sy belofte gestand doen om staatsondernemings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te hervorm en dat die arbeidsmark hervorm word.

DIT BLY BELANGRIK DAT DIE STAAT SY BELOFTE GESTAND DOEN OM STAATSONDER-NEMINGS TE HERVORM.

Dit sal “sakevertroue, beleggings en werkskepping ’n hupstoot gee, en só help om die vooruitsigte vir die geleidelike vermindering van die groot ekonomiese ongelykhede en hoë vlakke van armoede, ontbering en werkloosheid”.

Moody’s verwag dat die streng begroting wat Gordhan in Februarie voorgelê het, sal help om die verhouding van bruto skuld tot bruto binnelandse produk in die huidige boekjaar te laat stabiliseer op die huidige vlakke van 51%.

Vir die eerste keer sedert die wêreld- finansiële krisis het die regering belowe om ’n primêre oorskot (dus voordat skuld bygereken word) te behaal, met die verwagting dat die oorskot sal groei in komende jare, sê Moody’s.

Moody’s het lof daarvoor dat Gordhan gesê het duur nuwe projekte soos kernkragstasies en nasionale gesondheidsversekering sal slegs ingestel word in ’n pas en skaal wat die begroting toelaat.

Moody’s sê hy sal Suid-Afrika afgradeer as die ekonomie nié begin herstel nie, as die regering nie volhou met sy pogings om skuld in bedwang te hou nie of as beleggersvertroue ernstig agteruitgaan.

Nog kommentaar

Die tesourie het aan Reuters gesê die regering is besig om die staatskas “onder beheer” te bring ondanks negatiewe politieke verwikkelinge.

Ook David Maynier, die DA se woordvoerder oor finansies, sê Moody’s is bekommerd oor “uitdagings met strukturele hervormings om groei te stu en werk te skep”.

“’n Uiteindelike kredietafgradering sal ’n groot impak op gewone mense hê weens ’n swakker rand en inflasiedruk, wat ’n reuse-impak op verbruikers kan hê. Dit sal almal raak en niemand spaar nie.”

Verreweg die meerderheid ontleders steeds verwag steeds dat Suid-Afrika tot rommelstatus afgegradeer gaan word deur Fitch Ratings en/of Standard & Poor’s. Dit kan so gou as Junie gebeur.

Bron: Netwerk24

Enjoyed this post? Share it!