Moody’s se byl val – Suid Afrika beleef nog ‘n krediet afgradering

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s Investor Services het soos verwag die gradering van Suid-Afrika se staatskuld in sowel buitelandse geldeenhede as in rand verlaag tot Baa3, net een vlak bo rommelstatus.

Dit volg op die afgradering van staatskuld in April deur Fitch Ratings en Standard & Poor’s Global Ratings en politieke ontwrigting, en kom in weerwil van sterker groei in die wêreldekonomie.

Die rand het Vrydag deur die dag in afwagting op die besluit taamlik bestendig tussen R12,85 en R12,91 teenoor die dollar verhandel en nie juis dramaties op die nuus gereageer nie. Dit het kort ná middernag teen R12,94 verhandel.

Moody’s het sy vooruitsig vir verdere graderingsbesluite op negatief gehou. Dit is gegrond op Suid-Afrika se fiskale agteruitgang, swak groeivooruitsigte (die verwagting van 1%- ekonomiese groei in 2017 is nou net ’n hersenskim nadat die land in die eerste kwartaal met -0,7% gegroei en in ’n tegniese resessie gedompel is) en beleidsonsekerheid.

Die sleuteloorwegings vir die afgradering en vooruitsig was volgens Zuzana Brixiova, vise-president van Moody’s en senior ontleder gelas met Suid-Afrika:

* Die verswakking van Suid-Afrika se institusionele raamwerk;

* Laer groeivooruitsigte wat beleidsonsekerheid en stadiger strukturele hervorming weerspieël; en

* Die voortgesette verwering van fiskale kragtigheid weens die stygende openbare skuld en bykomstige verpligtinge soos die reuse-skuld van staatondernemings wat uiteindelik op die staat se boeke kan beland.

Die onlangse kabinetskommeling en die gepaardgaande vervanging van Pravin Gordhan deur Malusi Gigaba as minister van finansies word deur Moody’s as een van die vernaamste redes vir die strukturele en beleidsonsekerheid uitgelig.

Die Baa3-gradering gee volgens Brixiova “erkenning aan ‘n paar belangrike sterkpunte wat Suid-Afrika se kredietwaardigheid onderskraag.”

Die negatiewe vooruitsig weerspieël egter die voortgesette risiko vir groei en fiskale konsolidasie wat verband hou met die politieke vooruitsigte.

In die mediumtermyn sal ekonomiese en fiskale veerkragtigheid sensitief bly reageer op beleggersvertroue en daarom bly daar onsekerheid rondom politieke ontwikkelinge, insluitend die vooruitsigte vir strukturele hervorming wat insluit potensiële groei en veerkrag in fiskale besteding, lui Brixiova se verklaring.
Moody’s se besluit moet gesien word as waarskuwing en nie as ‘n kwytskelding nie, het prof. Raymond Parsons, ekonoom verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool gesê.

Die positiewe van die besluit is dat Suid-Afrika steeds op Citigroup se World Government Bond Index (WGBI), figureer. “Dit het beduidende implikasies vir die koste van die land se skuld en gee hom ruimte om asem te skep, ook vir regstellende beleid en optrede.”

Die graderingsbesluit “moet egter as waarskuwing beskou word vir Suid-Afrika om sy sake in orde te kry,” reken Parsons

Om Suid-Afrika se beleggingstatus te herstel sal tasbare en dringende vordering gemaak moet word met kwessies soos die herstel van beleggersvertroue, lewensvatbare openbare finansies en die versterking van instellings in die tydperk vorentoe.

Die graderingsagentskappe sal Suid-Afrika einde vanjaar weer besoek. As sleuteltoestande in die volgende paar maande nie verbeter nie, sal die risiko van nog ‘n afgradering weer opdoem, waarsku Parsons.

David Maynier, die DA se woordvoerder oor finansies, het in sy reaksie gesê dit is nóg slegte nuus en ‘n duidelike mosie van wantroue in die Gigaba as minister van finansies en in pres. Jacob Zuma.

Moody’s se besluit beklemtoon die feit dat politieke ontwikkelinge ‘n negatiewe uitwerking op institusionele kragtigheid gehad het. Dit skep twyfel oor die krag en volhoubaarheid van die herstel in groei en die stabilisering van die skuld-tot-BBP-verhouding in die korttermyn.

“Ons sal nie terugsit en niks doen nie terwyl die ekonomie in ‘n resessie verval het en ‘n verstommende 9,3 miljoen mense in Suid-Afrika nie werk het nie of moed opgegee het om na werk te soek.

“Die DA het aan Baleke Mbete, voorsitter van die parlement, geskryf en gevra vir ‘n blitsdebat oor maatreëls om werk te maak van die resessie, afgraderings en grootskeepse werkloosheid in Suid-Afrika,” het Maynier gesê

Peter Attard Montalto, ontleder van Nomura, verwag die negatiewe gradering sal die risiko hoog hou dat Suid-Afrika se staatskuld later selfs verder afgegradeer kan word.


Enjoyed this post? Share it!