Moody’s se goeie nuus ‘koop net tyd’

Moody’s se goeie nuus ‘koop net tyd’

Suid-Afrika moet nie voortydig feesvier oor die kredietgradeerder Moody’s se onverwagse Moedersdaggeskenk om die land se gradering onveranderd te laat nie.

Daar is nog baie werk om te doen voordat die swaard van ’n afgradering (en gevolglik duurder skuld, ’n swakker rand en dalende ekonomiese groei) gelig word, is die reaksie van sowel die regering en ekonome wat die naweek Moody’s se besluit verwelkom het.

In sy reaksie het adj.pres. Cyril Ramaphosa Sondag die Tesourie gelukgewens met die gesamentlike poging om ’n onmiddellike kredietafgradering af te weer en gesê dit toon wat bereik kan word indien Suid-Afrikaners saamwerk.

“Maar dit (die gevaar van afgradering) is nog nie verby nie want daar is nog ’n gradering wat kom en dit is wanneer ons harder moet werk en bewys lewer dat Suid-Afrika solied, stabiel en ’n belegging waardig is,” het Ramaphosa volgens Fin24 gesê

Ekonome waarsku ook dat enige verdere skokke of fiskale beloftes wat nie nagekom word nie, ’n afgradering onafwendbaar sal maak.

“Al wat ons gekoop het, is ’n bietjie tyd. Die vraag is watter beloftes van die regering aan die graderingsagenstkappe kan geglo word, en wat kan steeds die kredietgradering ontspoor,” het dr. Cees Bruggeman, raadgewende ekonoom van Bruggemans & Associates, Sondag in sy reaksie gesê.

Hy het veral getwyfel aan beloftes van samewerking tussen die sakesektor, arbeid en die regering om die vertroue in Suid-Afrika te herstel en het dit as die “swakste skakel” in die herstelde vertroue bestempel.

Ramaphosa het juis in sy kommentaar verwys na die sukses wat behaal is nadat die Tesourie sáám met sakelui, vakbonde en die burgerlike gemeenskap oorsee gereis het om beleggers aan te moedig.

“Die vraag is presies wát aan die graderingsagentskappe gesê is oor samewerking tussen die regering, georganiseerde sake en die vakbonde. Daar moes ’n baie spesifieke boodskap uitgegaan het om so ’n besliste draaipunt te bewerkstellig.”

Indien dié vertroue geskend sou word deurdat ons nie die ondernemings kan gestand doen nie, sal ’n afgradering waarskynlik uiteindelik wel ons voorland wees,” het Bruggemans gesê.

Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group, sê Moody’s se besluit om Suid-Afrika se soewereine gradering onveranderd te laat op twee vlakke bo rommelstatus, is ’n verligting, berig Hanlie Stadler.

“Skip Suid-Afrika” is nié vol gate nie – die bemanning is dalk net verkeerd en die skip vaar dalk in die verkeerde rigting.”

Roodt sê tot die uitspraak van die konstitusionele hof dat pres. Jacob Zuma wel van die geld vir die opgradering aan Nkandla moet terugbetaal, was hy bekommerd dat Skip Suid-Afrika wél aan die sink was.

Hy is egter saam met Moody’s verlig dat daar tekens is dat Suid-Afrika se instellings onafhanklik is en hul werk doen. “Ek was baie verlig oor die uitspraak, maar veral die reaksie daarop – die feit dat almal die uitspraak aanvaar het, is ’n baie goeie teken.”

Suid-Afrika se ekonomie het ná verskeie jare van dalende groei dalk nou ’n keerpunt bereik, is die mening wat Moody’s gehuldig het in ’n verklaring wat Vrydagnag uitgereik is.

Moody’s gradeer Suid-Afrika se skuld nog steeds twee vlakke bo rommelstatus. Die agentskap sê wel dit lyk asof die staat se 2016/’17-begroting en die mediumtermyn- fiskale plan staatskuld sal stabiliseer en uiteindelik verminder.

Roodt sê Moody’s se besluit om die vooruitsig van stabiel na negatief te verander, is op sigself slegte nuus. Dit kan ’n voorspel tot ’n latere afgradering wees en dui op hoë risiko’s in die ekonomie.

Die rand het Vrydagnag in ’n stadium tot selfs R14,69 per dollar versterk, maar het intussen weer teruggesak tot R14,88.

Die agentskap bevind ook “onlangse politieke ontwikkelinge, hoewel ontwrigtend, getuig van die onderliggende krag van Suid-Afrika se instellings”.

Moody’s sê die konstitusionele hof se bevinding teen die president oor die misbruik van openbare geld, asook die bevinding van die hooggeregshof dat korrupsieklagte teen hom heringestel moet word, bewys die mag en onafhanklikheid van Suid-Afrika se Grondwet en regstelsel.

“Die plaaslikeregeringsverkiesings gaan die lakmoestoets wees of en hoeveel dié ontwikkelinge die ANC se steun onder kiesers weggekalwe het.”

Die graderings waarvoor almal steeds asem ophou, kom eers in Junie, wanneer Fitch Ratings en Standard & Poor’s besluit of hulle staatskuld tot rommelstatus afgradeer.

Die meeste ontleders verwag steeds dat Suid-Afrika tot rommelstatus afgegradeer gaan word deur Fitch Ratings en/of Standard & Poor’s. – Nuus24

Enjoyed this post? Share it!