Mooi so – Verdagte kritiek ná inbraak op kleinhoewe buite Potchefstroom

ʼn Vermeende inbreker is in die hospitaal opgeneem nadat hy Donderdag in die vroeë oggendure op ʼn kleinhoewe buite Potchefstroom geskiet is.

Lt.kol. Adel Myburgh, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die voorval het net na 01:00 op ʼn kleinhoewe in die Vyfhoek-omgewing plaasgevind.

Volgens Myburgh is daar twee huise op die kleinhoewe waarin die eienaar van die hoewe en ʼn huurder onderskeidelik woon. Die huurder het omstreeks 21:00 gehoor hoe glas êrens in die huis breek. Sy het ondersoek ingestel en gesien dat ʼn venster van die huis gebreek is.

“Die huurder en die eienaar het in en om die huis rondgekyk, maar het niks buitengewoons opgemerk nie, behalwe vir die gebreekte venster. Hulle het besluit dat die huurder eerder in die eienaar se huis sou oornag totdat die venster die volgende dag herstel kon word,” het Myburgh gesê.

Net na 01:00 het die eienaar weer gehoor hoe glas by die huurhuis breek en hy het gaan ondersoek instel. Hy het na bewering gesien hoe drie verdagtes goedere uit die huis uitdra. “Skote is afgevuur en een van die verdagtes is gewond,” het Myburgh gesê. Die ander twee verdagtes het op die vlug geslaan.

Annine Siddall, woordvoerder van ER24, het gesê by paramedici se aankoms op die toneel het hulle ʼn man in ʼn kritieke toestand aangetref. Hy het ʼn skietwond in sy arm en in sy bolyf opgedoen. Hy is op die toneel gestabiliseer en onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem.

Myburgh het bevestig dat ʼn 47-jarige verdagte onder polisiebewaking in die hospitaal behandel word. “Ons speurders is nog op die toneel, so dit is nog nie duidelik watter sake alles ondersoek sal word nie. ʼn Saak van huisbraak sal beslis geopen word aangesien daar beslag gelê is op ʼn televisie wat uit die huis gesteel is. Nog sake kan egter later bygevoeg word,” het sy gesê.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!