Moord beskuldigde van Elsa Erasmus kla oor daar te veel wit mense in hof is

Die vermeende meesterbrein agter die moord op Elsa Erasmus (74) in Julie op haar plaas in die Schweizer-Reneke-omgewing, het reeds ’n bekentenis afgelê.

Dit was Woensdag die getuienis van AO Peter Mochwaiwa in die stampvol landdroshof in Schweizer-Reneke waar Erasmus se vermeende moordenaars en verkragters se borgtogverhoor begin het.

Dis byna vir ’n vierde keer uitgestel sedert die verdagtes se inhegtenisneming in Julie en Augustus.

Sam Maretele, Itumeleng Serai, Obakeng Mopalame en Boitumelo Matsuwe het gevra hul borgtogverhoor moet uitgestel word omdat daar “baie wit mense” in die hof is en hulle “nog nie gereed” is nie.

Landdros Marionette Kirsten het die uitstel tot Maandag toegestaan, maar gelas dat die ondersoekbeampte wel Woensdag moet getuig sodat hy nie weer (onnodig) by die hof is nie.

Erasmus se lyk is vroeg in Julie op haar plaas in die Amalia-omgewing in die Schweizer-Reneke-distrik gevind nadat sy verkrag en vermoedelik met haar eie vuurwapen doodgeskiet is. Sy was ’n dag lank vermis voordat die polisie en plaaslike boere haar liggaam ’n ent van haar plaashuis gevind het. Haar voertuig, kontant, skootrekenaar en twee vuurwapens is gesteel.

Swart en wit mense van die plaaslike gemeenskap, asook familielede van die 74-jarige Erasmus, was Woensdag by die borgverhoor. Onder hulle was lede van die Amalia-gemeenskapsvoetpatrollie wat in pienk hemde met teenmisdaadslagspreuke by die hof was. Piet Witbooi van die groep het vertel hulle veg teen alle soorte misdaad. “Sy (Erasmus) het ons ondersteun deur (onder meer) gratis kos vir geleenthede en gemerkte baadjies vir patrollering te gee.”

Gerrit Meyer, voorsitter van die Amalia-boerevereniging, sê hulle vra net geregtigheid en hoop die verdagtes word nie op borgtog vrygelaat nie.

Lede van Amalia se gemeenskapsvoetprollie was ook Woensdag by die hof in Schweizer-Reneke om hul stem dik te maak teen misdaad.

Mochwaia het getuig Serai het reeds erken hy het saam met die ander beskuldigdes beplan aan die aanval op Erasmus en uitwysings gedoen. Hy is tevore aan huisbraak en veediefstal skuldig bevind.

Verskeie vuurwapens is in Maretele en Mopalame se besit gevind, waarvan sommige gesteel was. Mopalame is tevore aan roof skuldig bevind, terwyl Matsuwe ’n hangende huisbraaksaak teen hom het.

Ondersoekbeampte Mochwaiwa het getuig hy is nie ten gunste van borgtog vir die vier nie, onder meer omdat een van die vuurwapens wat by Erasmus gesteel is, nog weg is.

Ons verwerk alles nog moeilik. Dit gaan party dae beter as ander. Ons sal nie afsluiting kan kry solank die hofsaak nog aan die gang is nie.

“Hulle kan moontlik met die ondersoek inmeng en met bewysstukke peuter. Hulle is ’n gevaar vir die gemeenskap en sal moontlik hul verhoor probeer ontduik omdat hulle weet hoe ernstig die aanklagte teen hulle is.”

Mochwaiwa word Maandag gekruisondervra.

Sakkie Nel, Erasmus se skoonseun, het ná die verrigtinge gesê haar beeste is verkoop en die plaas word nou verhuur.

“Ons verwerk alles nog moeilik. Dit gaan party dae beter as ander. Ons sal nie afsluiting kan kry solank die hofsaak nog aan die gang is nie.”

Erasmus het alleen op die plaas geboer sedert haar man, Hendrik, se dood sowat drie jaar gelede. Hulle het sedert hul troue in 1968 op die plaas gewoon en het drie dogters.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!