MOORDENAAR OP PAROOL SLAAN WEER TOE!!!

‘n Treurspel het helder oordag in Bronville afgespeel toe ’n jong vrou deur haar vervreemde vriend voor van haar familielede vermoor is.

Geraldine Lukas (34) is Saterdag (02/09) omstreeks 10:30 wreedaardig vermoor.

Sy is ’n geruime tyd deur haar vervreemde vriend, Thomas Reeman (41), lastig geval en geteister. Dié twee was voorheen in ’n stormagtige verhouding.

Lukas het vir haar lewe begin vrees nadat Reeman haar weer die afgelope tyd begin teister het. Sy het ’n tussentydse beskermingsbevel teen hom gekry.

Dit het hom egter nie gestuit nie.

Lukas sou Dinsdag (05/09) in die Welkomse landdroshof die beskermingsbevel bekragtig.
Die situasie het egter ’n wending geneem toe Reeman vir Lukas en twee van haar niggies Saterdag omstreeks 10:30 met ’n mes aangeval en Lukas doodgesteek het.

Een van die niggies het gevlug en die Bronville polisie ontbied. Die polisie was dadelik op die toneel. Lukas het op die toneel gesterf en Reeman is in hegtenis geneem.

“Reeman word aangekla van moord, asook twee klagte van poging tot moord,” sê sers. Mamello Mokhuoane, woordvoerder van die polisie.

Reeman, wat op parool was, het verskeie kriminele oortredings agter sy naam, wat twee moorde en diefstal insluit.
Die oorledene se broer, Matthew Lukas (23), sê dat hy geskok is oor die Suid-Afrikaanse regstelsel wat sy suster so gefaal het.

“As Reeman vir die moorde wat hy voorheen gepleeg het in die tronk gehou was, sou my suster vandag nog geleef het,” sê Matthew.

Hy is die enigste van haar gesin wat nog leef. Hul ouers is altwee oorlede.

Reeman het Maandag (04/09) vlugtig in die Welkomse landdroshof verskyn en die saak is tot Woensdag 20 September uitgestel sodat hy regshulp kan inwin.

Die polisie ondersoek ’n klag van moord en twee van poging tot moord teen Reeman.
Deur Madli Grobbelaar 07 September 2017


Enjoyed this post? Share it!