Mosie van Geen Vertroue teen Zuma wyl hy sy eie beeld poets

Terwyl Zuma sy eie beeld poets in sy staatsrede het AGANG ‘n mosie van Geen Vertroue teen Zuma in die Grondwetlike hof gelê. AGANG het laas Donderdag die mosie gevra en gevra dat dié in die geheim gehou moet word.

‘n Lys van honderde redes oor korrupsie en onbevoegthede is ook hier op die Sky.co.za Nuus werf geplaas:

Beurtkrag is nie al wat Suid-Afrikaners in die duister hou nie. Propaganda doen dit ook.

As gekyk word na pres. Jacob Zuma se groot gespog in sy jaareindverklaring en dit vergelyk met analiste se oordeel oor hoe sake die afgelope jaar, en die afgelope 20 jaar verloop het, leef Suid-Afrikaners heel duidelik in twee lande.

Zuma meen Suid-Afrikaners het goeie rede om fees te vier (oor die ANC se prestasies) terwyl daar heelwat syfers en faktore is wat die teenoorgestelde verhaal vertel. Eskom se penarie en die beurtkrag, en gevaar van nog beurtkrag, vertel ’n verhaal van sy eie.

En dit is lank nie meer net die Afrikaner wat voel dinge het agteruit geboer nie. Die resultate van die onlangse Versoeningsbarometer het die krake tussen werklikheid en propaganda soos selde oopgevlek. Terwyl die meeste deelnemers gemeen het die ekonomie het die afgelope dekade verbeter, het die meeste gemeen werksgeleenthede het afgeneem. Propaganda kan net so ver gaan…

Die jaareindverklaring (lees City Press se berig hieroor) is taamlik louwarm deur die media ontvang, so asof hulle vrees die aanbied daaraan as feitelike berig gaan hul eie geloofwaardigheid skaad.

Zuma maak onder meer daarop aanspraak dat die land op koers is om aan die  VN se millennium-doelwitte teen 2015 te voldoen. In die praktyk is die agt doelwitte waaroor die lande van die wêreld ooreengekom het ’n soort stel van die absolute minimum doelwitte – soos dat uiterste armoede met die helfte verminder moet word, en dat die verspreiding van MIV/Vigs gestuit moet word. Dit reflekteer dus hoegenaamd nie ’n prestasie nie, maar die minimum verwagtinge wat die wêreld van die verskillende lande het.

Rede om fees te vier? Net as ’n mens se verwagtinge vir die land en die mense besonder laag is.

Voorts sal baie mense meen dat Zuma se stelling dat die regering as deel van die ANC se transformasie nou verantwoordbaar aan die mense is, en nie-rassig is, ’n infame leuen is. Trouens, die blote uitreik van hierdie verklaring nadat die president vanjaar besonder katvoet geloop het om in die parlement te gaan verantwoording doen, skreeu ten hemele. Die een keer (van die minstens vier keer wat hy veronderstel was om dit te doen) het die EFF hom oor die Nkandla-kwessie vasgetrap toe hy, soos gebruiklik, daaroor volstruispolitiek wou speel.

Die geleentheid om met sulke groot gespog vorendag te kom – weliswaar met feite gestaaf, is die staatsrede wat vroeg volgende jaar moet plaasvind. En hiervoor wag die EFF, ekskuus, die opposisie, hom in. Die EFF het daarvoor gesorg dat die tyd vir jakkalsdraaie en slim stories in die parlement finaal verby is.

Of die president se staatsrede ontwrig gaan word of nie, die oë van die land gaan daarop gerig wees. Maar dit is belangrik om daarop te let dat, al word groot gewag van die staatsredes in Suid-Afrika gemaak, Suid-Afrika die afgelope 20 jaar nog geen werklike staatsrede volgens die internasionale norme wat daarvoor geld, uit ons eie parlement aangehoor het nie. Nie al die staatsredes was noodwendig swak nie, maar daar was al besonder swak pogings wat duidelik deur onbekwame amptenare aanmekaar getimmer is, en deur die politici verder verongeluk is.

’n Staatsrede is veronderstel om die land se mense te motiveer, nie om hulle met goedkoop propaganda ’n rat voor die oë te draai nie. Dis die geleentheid om super-verantwoordbaarheid aan die dag te lê, wat buitengewone openheid vereis. En waar die lig nie behoorlik skyn nie, sal die lede tydens vraetyd die soeklig hard laat val, en is die veronderstelling dat die staatshoof in sy repliek daardie tekortkominge behoorlik belig.

277e7d6139e448138ce47791fc8f7e7c

Die staatsrede is nie veronderstel om ’n geleentheid te wees waar die land met donkie-ore toegerus word nie.

Volgens konvensie is die staatsrede nie ’n president se reg nie, en allermins om deur propaganda sy eie beeld te kom poets. Dis die geleentheid wanneer die staatshoof deur die parlement genooi word om die parlement – en sodoende die land – te kom toespreek. In die VSA, die land waar die tradisie sy ontstaan het, het pres. Barack Obama pas ʼn skriftelike uitnodiging  van speaker John Boehner, gekry om sy staatsrede op 20 Januarie te lewer.

Obama, anders as Zuma, is deur die volk self tot president verkies, en tog moet hy aan die kongres verantwoording doen. Hierdie staatsredes is wêreldwyd groot nuus, want dit is tradisioneel gelaai met saakmakende feite. Daarom is dit praktyk dat ambassadeurs van ander lande en ander werklike saakmakende mense die geleentheid bywoon.

Teen dié tyd is die verwagtinge min dat Zuma daartoe in staat sal wees om uit te styg bo die geleentheid waar groot bedrae geld gespandeer word aan fanfare, en dan met ’n halfgebakte groot “brag” in intervarsitygees vorendag te kom.

Tog, so lyk dit, die opposisie het nou die voet neergesit. Die tyd vir klugpraatjies en ’n beleefde handeklap is verby. Op daardie manier het die ANC stil-stil die parlement gekaap en onder die regstreekse “beheer” van Luthuli-huis geplaas, wat gedikteer het waaroor die lig mag skyn, en waaroor nie. En daar is bitter baie sake waaroor die lig nou moet skyn, en hulle word by die dag meer. Soos die vraag of Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, se gerapporteerde ongedurigheid met Zuma verdamp en in absolute lojaliteit omgesit het toe dit duidelik geword het sy vrou gaan vet skep uit die voorsiening van steenkool aan Eskom?

Of die gesamentlike opposisie daarin gaan slaag om die demokrasie terug te katrol, sal gesien moet word, maar dat hulle gaan probeer, is nie altemit nie.

Hoeveel erns het die regering met sy 30-dae regrukaksie by Eskom, die SAL en Poskantoor (met die SAUK wat duidelik ook in daardie geledere gehoort het) as die leier van die ingrypingspan, adjunkpresident Cyril Ramaphosa, in die middel van die 30 dae met sy gesin in Kuba gaan vakansie hou? Tien teen een span hy moderne tegnologie in om deurgaans die vinger op die pols te hou, maar op die oog af stuur dit die boodskap uit dat tevredenheid met die laagste moontlike standaarde weer as oorvoldoende deur die regering beskou word.

Soos wat Suid-Afrikaners kort-kort deur beurtkrag in die duister gelaat word, word die regering se propaganda-arm aangewend om die land oor werklikhede in die duister te hou. Onlangs is selfs regstreeks gedreig dat die media wat nie wil saamspeel nie, nie staatsadvertensies gaan kry nie.

fail

Soos beurtkrag die land se ekonomie onmeetbare skade aanrig, so rig ʼn oningeligte publiek ook onmeetbare skade aan ’n land aan. Elkeen het ’n groot verantwoordelikheid om te sorg dat hy met die beste middele wat hy of sy kan bekostig, goed ingelig sal wees. Daarsonder kan nie tussen feit en propaganda onderskei word nie, en word demokrasie uitgehol.

En die opposisie het ook ’n dure verantwoordelikheid om te sorg dat die regering hom nie aan propaganda skuldig maak nie. Dit is een ding as die ANC dit met sy eie fondse doen, maar wanneer die regering staatsfondse en staatsmiddele gebruik, word die publiek beroof – van geld wat elders nuttig of noodsaaklik aangewend kon word, en hul grondwetlike reg om reg ingelig te wees.

Bron

Enjoyed this post? Share it!