Mosie van wantroue teen Helen Zille het op die ANC ge-backfire

Die mosie van wantroue teen die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, het op die ANC ge-backfire.

Só meen Ferlon Christians, die leier van die ACDP in die provinsie en ’n LPP.

Die ANC het Donderdagaand in die provinsiale wetgewer geëis Zille moet uit haar pos as premier geskors word.

Die mosie het gevolg op ’n omstrede stelling wat Zille ­vroeër vanjaar op Twitter gemaak het.

Zille was in daardie stadium in Singapoer toe sy getwiet het nie alles omtrent kolonialisme was negatief nie.

Christians het Vrydag gesê die ANC het die mosie voorgestel omdat hy relevant wil wees en in die nuus wil wees.

Hy meen dié move het egter in die ANC se gesig ontplof, aangesien dit Zille se posisie nou net verstewig het.

Verskoning
Christians het gesê: “Ons het dié kwessie reeds in die wet­gewer bespreek.

“Sy het verskoning gevra en ons as die ACDP het haar ver­gewe.

“Ek het nog gedink die saak is afgehandel, maar die ANC het egter voortgegaan met ’n mosie van wantroue.

“Ons (ál die LPP’s) kan nie voortgaan om gemeenskappe te verdeel nie; ons moet gemeenskappe verenig.”

Christians sê hy het Zille se verskoning aanvaar omdat hy en sy party op Christelike beginsels gegrond is.

“Danksy die ANC se mosie van wantroue kon die DA sy eie mosie voorstel, en dit het geslaag danksy die DA se getalle.

“As ek die ANC was, sou ek die mosie van wantroue terug­getrek het. Die een wat dit voorgestel het, die ANC se provinsiale leier, Khaya Magaxa, was nie eens teenwoordig toe dit oorweeg is nie.”

Deur:Anele Mfazwe/Son


Enjoyed this post? Share it!