Munisipale verkiesing dalk afgestel

VerkiesingMunisipale verkiesing dalk afgestel

Die chaotiese toestand wat by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) heers kan lei tot die afstel van die munisipale verkiesing later vanjaar.

Verkiesing deskundiges het aan “Die Vryburger” gesê die OVK se kieserslyste is in sodanige chaotiese toestand dat dit nie moontlik sal wees om die ontbrekende besonderhede reg te stel voor 3 Augustus nie.

Ingevolge die land se Grondwet kan die verkiesing nie op ’n later datum as 16 Augustus gehou word nie, wat beteken dat die Zuma-bewind weer die Grondwet gaan skend.

Politieke ontleders en invloedryke meningsvormers sê die moontlikheid is baie sterk dat die verkiesing wel gaan plaasvind maar dat die kieserslys nie aan die vereistes gaan voldoen nie, wat beteken dat die uitslag daarvan betwis kan word as ’n verkiesing wat nie regverdig is nie.

Honderde kiesers het glo reeds gekla dat hulle besonderhede reg was op die kieserslys en nooit verander het sedert die vorige verkiesing nie, maar nou word hulle verwittig dat die besonderhede opdateer moet word.

Nadere ondersoeke dui daarop dat die besonderhede nou nie meer volledig is soos wat dit aanvanklik die geval was nie.

Dit laat die vermoede bestaan dat die OVK van die besonderhede op hulle rekenaars verlore laat gaan het, en dat dit nie maklik voor die sperdatum reggestel kan word nie, behalwe as die verlore inligting herwin kan word.-Vryburger

Enjoyed this post? Share it!