Munisipaliteit van Brits kan nie water bekostig, maar 1ste burger ry in weelde

Terwyl die Madibeng-munisipaliteit (Brits) nie sy waterrekening kan betaal nie en regeringstoelaes gebruik word om skuld te delg, huur die burgemeester ’n luukse Mercedes-Benz teen R3 060 per dag.

Die koste om die Mercedes te huur het onlangs in ’n geskrewe antwoord van die munisipale bestuurder, MG Magole, op vrae van Eddie Barlow, DA-koukusleier van dié munisipaliteit, aan die lig gekom.

Volgens Barlow word die motor nou al sowat vyf maande vir Jostina Mmantina Mothibe, die uitvoerende burgemeester, gehuur.

Magole sê dis terwyl herstelwerk aan die ampsmotor gedoen word.

Volgens Barlow is die ampsmotor “sat gery”, maar dit sou steeds beter gewees het as dit gou herstel kon word sodat die burgemeester eerder daarmee kan ry.

“Madibeng se geldsake is só beroerd dat ons toelae van die regering nie vir instandhoudingswerk gebruik kan word nie omdat skuld daarmee gedelg moet word.”

Barlow sê Randwater het boonop Dinsdag weens uitstaande skuld waterdruk na dele van Hartbeespoort verminder. Gevolglik het groot dele van dié dorp Woensdag nie water gehad nie.

Barlow meen ook hoewel Mothibe die ampsmotor beperk privaat mag gebruik, misbruik sy dié voordeel.

Magole ontken dit egter en hou vol die ampsmotor word net vir amptelike doeleindes gebruik. “Die ritboek is beskikbaar en word bygehou.”

In antwoord op sy vrae oor die munisipaliteit se stalletjie onlangs op die Nedbank-gholfuitdaging in Sun City, wat net oor die R100 000 gekos het, het Magole geantwoord: “Ons het die geleentheid in oorleg met die departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en landbou geïdentifiseer as ’n manier om Madibeng as ’n toerismebestemming te bemark. Dit kan plaaslike en internasionale beleggers lok.”

Die stalletjie en materiaal het saam sowat R90 000 gekos, terwyl verblyf vir die vier mense wat dit beman het R15 200 (vir ses dae) gekos het.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!