‘n Bevelvoerder van Valke steel glo R500 000

Die bevelvoerder van die Valke se teenkorrupsie-eenheid in Mpumalanga is in hegtenis geneem op aanklagte dat hy byna ’n halfmiljoen rand gesteel het.

Kapt. Richard Nkwanyana (48) het hom Maandag aan lede van die Valke se georganiseerde misdaadeenheid oorgegee.

Hy word daarvan beskuldig dat hy R439 900 wat in die Valke se bewaring was in sy sak gesteek het.

Brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, sê lede van die polisie se nasionale intervensie-eenheid in die Kaap het in Mei verlede jaar op twee verdagtes in Mpumalanga toegesak en op kontant in hul besit beslag gelê.

Die eenheid het op dieselfde dag bedrae van R232 400 en R164 500 by twee verskillende verdagtes gevind.

Albei sake is na die Valke vir verdere ondersoek verwys, maar geen bewyse kon teen die verdagtes gevind word nie.

Hulle het daarna die Nelspruit-landdroshof genader om hul geld terug te kry, net om te hoor dat dit verdwyn het.

Nkwanyana, wat vir die veilige bewaring van die geld verantwoordelik was, het volgens Mulaudzi teenstrydige verklarings gegee oor wat daarvan geword het.

Verdere ondersoek deur die Valke het aan die lig gebring dat nog kontant waarop beslag gelê is en aan die staat oorbetaal moes word weg is.

Van die R118 000 was R43 000 weg.

Die teenwoordigheid van korrupsie is soos ’n kanker wat wegvreet aan die hart van die Valke.

Lt.genl. Yolisa Matakata, waarnemende hoof van die Valke, het Woensdag haar “teleurstelling” uitgespreek, maar sê dit wys die Valke skroom nie om teen sy eie lede op te tree nie.

Sy het gewaarsku die Valke sal nie toelaat dat die onetiese gedrag van ’n paar lede die harde werk wat hul kollegas doen ondermyn nie.

“Die teenwoordigheid van korrupsie is soos ’n kanker wat wegvreet aan die hart van die Valke,” sê Matakata.

“Lede wat hulself aan sulke gedrag skuldig maak, moet geïdentifiseer, gestraf en verwyder word.”

Sy sê die stryd teen korrupsie moet ’n volslae aanslag wees en sy het daarom besluit om Nkwanyana onmiddellik te skors.

Nkwanyana het intussen vlugtig op aanklagte van diefstal en dwarsboming van die gereg in die Nelspruit-landdroshof verskyn.

Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat en toegang belet tot enige gebou wat aan die Valke behoort. Die saak word op 17 Oktober hervat.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!