‘n Diktatuur vereis streng sensuur

Die SABC is ‘n voortslepende saak wat amper al in dieselfde kategorie as Nkandla en die wapentransaksie val.

Die gemene delers kan gesoek word by swak leierskap en magsvergrype en dit kos nie ‘n snuffelhond om die spoor te vat om die hele bende op te spoor nie.

‘n Wedersydse voorliefde blyk te bestaan tussen die bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, sy minister van kommunikasie, Faith Muthambi, en soos ‘n SABC-werknemer dit in ‘n brief stel: ‘n “patologiese” lojaliteit teenoor president Jacob Zuma. 

Kort-kort word ‘n skuif op die dambord gemaak net om die opwinding aan die gang te hou, en dit pas bykans soos ‘n legkaart inmekaar.

Dambord was egter nog nooit op die vlak van skaakspel nie.

Die reklame wat deur bepaalde rolspelers uit die hele sage verkry word, kan haas nie in rand en sent bereken word nie.

Elke dag word daar baie myle daaruit gehaal, alhoewel die ou sakebeginsel natuurlik steeds van toepassing is – geld maak geld.

Die redes waarom alles sou gaan, klink al so edel asof dit handel oor beginsels.

‘n Beroep op die grondwet as synde die hoeksteen van die demokrasie wat saam met die magsoorname van die ANC-regime oor die land gedaal het, klink soos ‘n politieke storie wat onder baie streng sensuur deurgeloop het.

Iets soos daardie dokumente waaruit daar sommer stukke met ‘n skêr geknip is, en uiteindelik bly daar net amper gate oor.

Dit is nou juis hierdie eindelose leemtes in die ANC-demokrasie wat weer soveel geleenthede skep.

In sy ekstreme vorm is dit “patologiese” lojaliteit teenoor iemand wat ‘n ou grappie maak dat hy sake sal regruk as hy net ses maande gegun word om as diktator te heers.

Maar ‘n diktatuur vereis streng sensuur.

Amper het die SABC die wenstreep gehaal, maar intussen moet die front nog eers deur vermeende demokratiese oorwinningsveldtogte bewaar word.

Bron: Vryburger


Enjoyed this post? Share it!