‘n Droë feestyd dalk ons voorland na aankondiging dat talle munisipaliteite se water dalk afgesny gaan word

Die departement van water en sanitasie het kennisgewings aan minstens 30 munisipaliteite uitgereik dat hul watertoevoer afgesny sal word indien hul skuld nie betaal word nie.

Die departement het gesê die munisipaliteite se watertoevoer sal teen 8 Desember afgesny word indien hulle nie skuld wat al langer as 60 dae uitstaande is, betaal nie.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, het gesê munisipaliteite skuld tans R10,7 miljard en 73% van die bedrag is al langer as 60 dae uitstaande. “Die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur vereis dat munisipaliteite binne 60 dae ná ontvangs van ʼn faktuur of staat vir grootmaatdienste moet betaal.”

Volgens Ratau het die departement al gesprekke gevoer en regstappe gedoen om die skuld in te vorder. “Die proses is al amper twee jaar terug begin en daar was al ses hofbeslissings in die departement se guns. Daar is ook al 59 dagvaardings uitgereik en 121 munisipaliteite is betrokke by wetlike invorderingsprosesse. Ondanks al hierdie ingrypings neem waterskuld op munisipale vlak toe.”

Ratau het gesê die departement het nou begin om artikel 59(3)(b) van die Nasionale Waterwet toe te pas waarvolgens die departement by magte is om die watertoevoer na munisipaliteite wat nie hul skuld betaal nie te beperk of af te sny.

“Die departement stel hierdie sanksie in as ʼn laaste uitweg, terwyl ons terselfdertyd ʼn beroep op die Nasionale Tesourie gedoen het om afdeling 216(2) van die Grondwet toe te pas, waarvolgens die Nasionale Tesourie die mag het om finansiering wat aan munisipaliteite betaal moet word te weerhou weens die volgehoue oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.”

Die volgende munisipaliteite se skuld is agterstallig:

Limpopo
Mopani-distriksmunisipaliteit R274 795 907
Vhembe-distriksmunisipaliteit R642 876 734
Mpumalanga
Mbombela-munisipaliteit R103 031 636
Dipaleseng-munisipaliteit R62 604 901
Lekwa-munisipaliteit R450 200 841
Msukaligwa R384 958 301
Emalahleni R144 654 434
Dr Pixley Ka Isaka Seme-munisipaliteit R86 787 181
Oos-Kaap
Amatole-distriksmunisipaliteit R50 661 382
KwaZulu-Natal
Zoeloeland-distriksmunisipaliteit R56 360 784
Noordwes
Madibeng-munisipaliteit R59 837 027
J.B. Marks-munisipaliteit R69 551 269
Dr. Ruth Segomotsi Mompati-munisipaliteit R195 078 429
Noord-Kaap
Dikgatlong-munisipaliteit R53 464 855
Vrystaat
Ngwathe-munisipaliteit R85 522 099
Mafube-munisipaliteit R159 850 740
Maluti-a-Phofong-munisipaliteit R233 925 397
Lepelle-waterraad
Mopani-distriksmunisipaliteit R246 007 515
Rand Water
Emfuleni-munisipaliteit R270 153 387
Sedibeng-waterraad
Matjhabeng-munisipaliteit R1 849 226 784
Nala-munisipaliteit R126 954 981
Mahikeng-munisipaliteit R228 855 994
Maquassi Hills-munisipaliteit R114 632 660
Ditsobotla-munisipaliteit R47 064 004
Ngaka Modiri Molema-munisipaliteit R62 933 833
Nama-Khoi-munisipaliteit R97 794 551
Tsantsabane-munisipaliteit R24 972 589
Dikgatlong-munisipalitet R11 112 246
Gamagara-munisipaliteit R8 376 736
Bloemwater
Mangaung-metro R349 227 064
Kopanong-munisipaliteit R196 689 402

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!