‘n Selfoonopname bewys glo Guptas het ministeriële aanstellings beïnvloed, kan Zuma en van Rooyen se desperaatheid verklaar

Die BBC berig dat verdoemende selfoongetuienis deel van Madonsela se verslag uitmaak. Dit wys glo dat Van Rooyen die aand voor hy deur Zuma as Minister van Finansies aangestel is met die Gupta gesin deurgebring het. Dit stem ooreen met inligting wat ontvang is dat die Gupta broers regeringsaanstellings tot ‘n groot mate beheer het.

Die Noord-Gautengse Hooggeregshof het beslis dat beide Minister Des van Rooyen en President Jacob Zuma se hofaansoeke op die 1ste van aanstaandemaand, en nie Dinsdag nie, aangehoor sal word. Hulle vra dat daar beslis word dat Thuli Madonsela se verslag oor staatsroof nie vrygestel mag word nie. Die EVV, DA, Cope, UDM en Madonsela se regsverteenwoordigers het vandag gevra dat Van Rooyen se aansoek verwerp word.

Regter Dawie Fourie het voorgestel dat die partye ooreenstem dat die verslag behoue bly totdat beide aansoeke aangehoor kan word…

Intussen berig die regsdrukgroep Freedom Under Law en die Helen Suzman Stigting sal beslis stappe doen as Shaun Abrahams van die Nasionale Vervolgingsgesag nie die aanklagte teen Minister van Finansies Pravin Gordhan terugtrek nie. Die drukgroep se voorsitter, Regter Johann Kriegler, sê Abrahams moet andersins besonderhede voorsien wat die aanklagte regverdig. Kriegler sê die aanklagte is ongegrond wat die feite en regsbeginsels betref.

Gordhan het vandag in Kaapstad by ‘n beleggingskonferensie gepraat en het gesê die aanklagte is nonsens. Hy het beklemtoon dat hy met sy werk voortgaan.
Gordhan het ook gesê hy is al 45 jaar lank ‘n lid van die ANC en bly lojaal teenoor die organisasie.


 

Enjoyed this post? Share it!