‘n Witman is Vrydagaand koelbloedig op ‘n hoewe in Mnandi, Centurion, deur swart aanvallers doodgeskiet.

Morgan
Pa hoor seun se doodskote
 
Dis nou oorlog, sê die pa van ’n man wat Vrydagaand op ’n hoewe in Mnandi, Centurion, vermoor is.
“Ek gaan vir my ’n f****n groot geweer koop. It’s not gonna happen here again.Hulle kom sommer hier in en skiet my seun,” het ¬Douglas Morgan (72) gister gesê ná die moord op sy seun, Mathew (43).
Douglas woon al 47 jaar op die hoewe. Sy kinders het daar grootgeword en Mathew het ook daar kom woon.
Sewe gesinne, sowat 20 mense, woon op die hoewe.
Omstreeks 20:00 het Douglas en Willem van Beest van Andel (41), ’n mede-inwoner, drie skote gehoor.
“Ek het eers gedink dis vuurwerk,” sê Van Beest Van Andel.
Toe hulle gaan ondersoek instel, het die twee aanvallers twee skote op Willem geskiet.
Willem sê die aanvallers het hoodies aangehad, maar hy is onseker of albei gewapen was.
Een van die skote het die boom langs Willem getref. Die koeël wat in die boom vasgesit het, is van ’n 9 mm-pistool.
Die aanvallers het gevlug en die polisie en buurtwag is ontbied.
Mathew se lyk is op die stoep van sy huis gevind. Hy het vermoedelik ook ’n geluid buite gehoor en gaan ondersoek instel. Die stoepdeur het oopgestaan en hy het deels in die huis gelê.
Hy is in die kop geskiet en is op die toneel dood.
’n Skootrekenaar is uit sy huis gesteel.
Die rowers het aan kabels gepeuter sodat die alarm nie sou afgaan nie.
Willem woon al 16 jaar op die hoewe en sê daar was al probleme met inbrake, maar dié was die ergste voorval. “Niemand het tot nou seergekry nie.”
Willem het nog nie sedert die voorval geslaap nie. “My vrou en my kinders voel onveilig.”
Volgens Willem was Mathew se passies motorfietse en kinders.
Hy het graag met sy twee kinders, van onderskeidelik vyf en ses jaar oud, in die veld gery.
“Sy kinders was sy lewe,” sê Willem.
Mathew het ook ou motors gekoop en opgeknap.
Hy was geskei.
Bron: Netwerk 24

Enjoyed this post? Share it!