Nasionale krag voorsiener Eskom skakel kragstasies af weens oorskot

Eskom sê nie uitdruklik hoe groot sy oorskot aan kragopwekkingsvermoë tans is nie, maar hy skakel reeds tot 14 eenhede van sy ouer steenkoolkragstasies oor naweke af.

Dít blyk uit ’n nadere studie van die staatskragmonopolie se onlangse jaarverslag.

Johnny Dladla, waarnemende hoof van Eskom, sê weens die nuwe kragopwekkingsvermoë van die nuwe steenkoolkragstasies Medupi en Kusile, en die pompopgaarskema Ingula wat bygevoeg is, het Eskom nou so ’n groot oorskot dat hy die uitvoer van elektrisiteit oor die volgende vyf jaar met 8% per jaar verhoog.

Hy wil plaaslike verkope met 2,1% per jaar verhoog.

Dit is nou al twee jaar gelede dat Eskom beurtkrag toegepas het, en die fokus is nou om die oorskot kragopwekking te bestuur om koste te spaar, sê Dladla.

Eskom gaan die Hendrina-, Grootvlei- en Komati-kragstasies oor die volgende drie tot vier jaar tydelik sluit om die oorskot te snoei en kragopwekkingskoste optimaal te bestuur.

Hendrina gaan al in die volgende boekjaar sluit, gevolg deur Grootvlei in 2019-’20 en Komati in 2020-’21.

Eskom skakel op weeksdae reeds 4 tot 6 eenhede van die ou steenkoolkragstasies om na wat hy koue reserwe noem. Dit is wanneer die kragopwekkers van die kragnetwerk ontkoppel word, maar op kort kennisgewing (binne 12 tot 16 ure) weer aan die gang gesit kan word. Oor naweke kan dit uitgebrei word tot soveel as 14 eenhede.

Eenhede by Grootvlei en Komati is reeds in uitgebreide koue reserwe geplaas, wat beteken dit word so afgeskaal dat 5 dae nodig is voordat dit weer aan die gang kan kom.

Grootvlei en Komati is saam met die Camden-kragstasie in die 1960’s gebou, maar in die 1980’s afgeskakel weens ’n oorskot, en toe weer van 2005 tot 2013 aangeskakel weens die kragtekort.

’n Studie van Eskom se aanbod- en vraagsyfers oor die afgelope dekade wys hy het die afgelope boekjaar ’n reserwe van 22,7% gehad (as sy nominale opwekkingsvermoë vergelyk word met die spitsvraag op die Eskom-stelsel). In die 2007-’08-boekjaar op die hoogtepunt van die eerste landwye beurtkrag was die reserwe net 15% op grond van dié syfers.

Deur:Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!