Naspers se Verraaierskus. Vir Volk en Vaderland, Beslis ja. Skoothonde? Nee.

Dis baie waar, Naspers was nog altyd voor in die koor om die sagte kommunisme aan die Afrikaner te verkoop. En het juis geen steen onaangeroer gelaat nie, veral in die laat tagtigs en vroeë negentigs om al wat Polisie man en Soldaat in die township, wat vegtende faksies uitmekaar gehou het in die ANC se intimidasie veldtog, as DEMONE en die ANTICHRIS voor te stel.

Mens wonder vandag hoe leef daardie verslaggewers met hulle self saam, as mens so kyk na die slagting op ons eie mense en die algemene verval van die land, waar alles in duie stort, nes wat ons wonder hoe leef die sg ondersoek beamptes in die ”boeremag sage’ ‘ook met hulself saam. By nou is dit al ou nuus dat die NP en die ANC bloot teenoorgestelde kante was van dieselfde muntstuk wat deur die CIA gebruik was in sy destabilisasie veldtog van Suider Afrika in die Amerikaners en Brittanje se Zionis kommunis beheerde regerings se oorlog oor gierigheid.

Ook dié inligting is geredelik beskikbaar in ‘n studie stuk rondom Kommunisme wêreldwyd deur ‘n Amerikaanse universiteit. Maar steeds is daar liberale witvelle wat die storie van die ”armed struggle” teen ‘n wrede “onderdrukkende” stelsel wil voorhou as die waarheid . Interessant om te sien dat politieke korrekte NASPERS nou die wind van voor kry, juis deur die regering wat hy ten alles koste as geloofwaardig aan n naïewe leeskorps wou verkoop .
Callie Mocke.

Dankie Leopold Scholtz vir jou dapper skrywe en uittreksel op Naspers se Stemme blad:

Regdeur Naspers se bestaan was daar ’n simbiose tussen die Pers, die Nasionale Party en die Afrikanernasionalisme, skryf Leopold Scholtz.

Volgens huidige insigte was Pers en Party te veel met mekaar verstrengel en het die Pers te veel in diens gestaan van die Afrikanernasionalisme.

Maar dit sou verkeerd wees om die verlede met die kennis en insigte van nou te beoordeel.

Die Pers se geskiedenis word deur drie temas gekenmerk:
Een: Die maatskappy en sy Afrikaanse koerante het tot die negentigerjare van die vorige eeu in diens van die Afrikanernasionalisme gestaan.
Twee: Hulle was strykdeur deel van die liberale vleuel van die Afrikanernasionalistiese beweging.
Drie: Op beslissende oomblikke het die redakteurs van dié koerante hul beginsels swaarder laat weeg as blinde trou aan die NP.

Die Nasionale Pers is in Desember 1914 gestig, 13 jaar ná die Anglo-Boereoorlog. Altesame 34 000 Afrikaners het toe in die Britse konsentrasiekampe omgekom, en die sedelike en ekonomiese nood was skrikwekkend. Afrikaans as geskrewe taal het skaars bestaan. Langenhoven het die arm, verstedelikte Afrikaners “verongeluktes, verarmdes, haweloses, gebreklydendes” genoem.

In dié omstandighede was Die Burger en sy susterkoerante geen bloedlose, neutrale nuusblaaie nie, maar vegters vir ’n ideaal – oorlewing van die Afrikanervolk. In verkiesingstye het die koerante bankvas agter die NP gestaan.

In dié jare het veral Die Burger ’n geweldige rol gespeel om Afrikaans van ’n gesproke “kombuistaal” tot ’n volwaardige geskrewe taal te laat ontwikkel. Reeds in 1918 het Die Burger “een revolutie” waargeneem: Die jonger geslag, wat voorheen liefs in Engels geskryf het, “bedient zich tans bij voorkeur van het Afrikaans boven het Engels”.

Samesmelting

In 1924 het die NP met genl. JBM Hertzog as premier aan die bewind gekom. Dr. D.F. Malan is as redakteur deur dr. Albertus Geyer opgevolg. Maar van die begin was daar ’n krapperigheid tussen Geyer en Hertzog. Geyer het die regering meestal gesteun, maar nie geaarsel om die premier en selfs vir Malan in die openbaar tereg te wys nie.

In 1933 het Hertzog ’n koalisie met genl. Jan Smuts se Suid-Afrikaanse Party, tot nog toe sy aartsvyand, aangegaan. Geyer en Malan het hulle aanvanklik verset, maar hulle skoorvoetend hierby neergelê. Die daaropvolgende jaar het Hertzog aanstaltes gemaak om die twee te laat saamsmelt. Malan het geweifel en was geneig om hom wéér aarselend daarby neer te lê.

Dit was ’n beslissende oomblik. Maar Geyer het sy beginsels swaarder laat weeg as lojaliteit aan die NP of selfs aan Malan, en het hom in die openbaar skerp teen die samesmelting verset. Dit het Malan oor die streep getrek. Dit sou vir latere redakteurs ’n inspirasie wees.

LANGENHOVEN HET DIE ARM, VERSTEDELIKTE AFRIKANERS “VERONGELUKTES, VERARMDES, HAWELOSES, GEBREKLYDENDES” GENOEM.

Die konsep- republikeinse grondwet

Teen 1942 was daar ’n klipharde magstryd tussen die NP en die Ossewa-Brandwag (OB), wat ’n vorm van die Duitse nasionaal-sosialisme aangehang het. Die Burger, Die Volksblad en die derde blad in die Pers se stal, Die Oosterlig, het hulle skerp teen die OB se idees verset.

Maar sommige daarvan het na die NP deurgesypel. In die loop van 1941 het ’n groep Afrikaners, onder wie dr. Hendrik Verwoerd, ’n konsep-grondwet aanvaar vir die republiek waarna hulle gestreef het. Dit het bepaal dat Afrikaans “as die taal van die oorspronklike blanke inwoners van Suid-Afrika” die eerste amptelike taal sou wees, met Engels “as ’n tweede, aanvullende taal”. Stemreg sou gereserveer word vir diegene “van wie verwag kan word dat hulle volksopbouend optree”.

Wéér het ’n beslissende oomblik aangebreek. Volgens Piet Cillié, ’n latere redakteur van Die Burger, had Geyer ’n afkeer van die “wilde romantiese en ekstatiese buitensporigheid wat onafskeidbaar is van opkomende nasionalistiese bewegings”. En dus het Geyer hom andermaal prinsipieel daarteen uitgespreek. Wie bepaal wat “volksopbouend” is? wou hy in ’n hoofartikel weet. Burgerregte kan nie op grond van sulke vaaghede toegeken word nie, slegs op regsgronde, het hy geskryf. Die konsep is in sy spore gestuit.

Piet Cillie

 

Piet Cillié

Piet Cillié en Hendrik Verwoerd

In 1948 het die NP aan die bewind gekom. Met Verwoerd was die Pers se verhouding – agter die skerms – vyandig. In 1960-’61 het dit tot skerp botsings gelei.

Privaat was Geyer, sy opvolger Phil Weber, Cillié en Schalk Pienaar reeds vroeg skepties oor die NP se aandrang om die bruines op ’n aparte kieserslys te plaas, maar ter wille van party-eenheid het hulle dit na buite verdedig.

Dus het Cillié in ’n versigtig bewoorde Dawie-rubriek gepleit dat die bruinmense, sy dit steeds op ’n aparte kieserslys, deur hul eie mense in die parlement verteenwoordig word. Maar Verwoerd het dié denke genadeloos platgeslaan.

Iets later het Cillié weer met sy steun vir die Cottesloe-beraad ’n groot nederlaag gely.

Verteenwoordigers van verskeie Suid-Afrikaanse kerke, met inbegrip van die NG Kerk, het ná dié beraad ’n verklaring opgestel waarin bepaalde aspekte van die apartheidsbeleid gekritiseer is. Cillié het die NG afvaardiging versigtig gesteun. Verwoerd het egter ’n rooi streep deur die verklaring getrek. In albei gevalle is Cillié deur sekere invloedryke Afrikanerleiers aangemoedig, maar toe hy oor sy skouer kyk nadat Verwoerd die sweep geklap het, was hulle skoonveld.

In ’n brief aan Weber het Cillié gekla dat wat “angswekkend oorheersend” by die Afrikaners is, “is botte onversetlikheid, Afrikaner-alleen-en-na-die-hel-met-die-res”.

Die Pers en die ‘verkramptes’

In 1966 is Verwoerd vermoor en deur John Vorster opgevolg, die opening waarop die Persmanne gewag het.

Uit die nederlaag teen Verwoerd het hulle ’n les geleer: Moenie die premier trompop loop nie. Dus het Cillié en Pienaar hul stryd om die NP in ’n liberaler rigting te trek voorgestel as steun vir Vorster.

Die Pers se koerante het kompromisloos jag gemaak op die regses, en gehelp dat dié die onderspit moes delf. Hul langtermynvisie het teen die tagtigerjare hiérop uitgekristalliseer, soos verwoord deur twee senior Naspersers, Alf Ries en Ebbe Dommisse:

“Denkende Nasionaliste wou veral die kardinale vraagstuk van Suid-Afrika – onderhandelings oor politieke regte vir swartmense – vanuit die sterkste moontlike magsbasis aanpak  . . . Die NP as die oerdraer van Afrikanernasionalisme wat terselfdertyd ’n insluitende Suid-Afrikaanse nasiebou bevorder het, was volgens Nasionaliste die beste toegerus om ’n standhoudende versoening met swart nasionaliste te bereik . . .”

CILLIÉ GEKLA DAT WAT “ANGSWEKKEND OORHEERSEND” BY DIE AFRIKANERS IS, “IS BOTTE ONVERSETLIKHEID, AFRIKANER-ALLEEN-EN-NA-DIE-HEL-MET-DIE-RES”.” 

Voorloper vir hervorming

Reeds in die vroeë vyftigs het senior Naspersers ernstige bedenkinge gehad oor die gebrek aan visie by die NP. Toe Verwoerd die moontlikheid van soewerein onafhanklike swart state in 1959 aankondig, is dit entoesiasties deur die Pers gesteun as ’n uitweg uit die dilemma van die onmoontlike keuse tussen Afrikaner-oorlewing en geregtigheid vir almal. Maar dié steun was met voorbehoude.

Soos Die Burger dit in 1961 gestel het, die “konsepsie van Bantoetuistes bevredig ons gevoel vir reg en geregtigheid”. Maar “die koue waarheid is dat die beleid op die oomblik nog staan voor ’n massiewe ongeloof, en dat daardie gesindheid nie beperk is tot teenstanders van die Regering nie. In ons eie Nasionale geledere word die vraag gestel of die beleid nog moontlik is, en indien dit wel moontlik is, of dit ons erns is?”

Wat die koerant hier gesê het, was eenvoudig dat die voorwaardes vir die sukses van die beleid nie nagekom is nie.

In die jare hierna het Die Burger, Die Beeld, Beeld en Rapport onophoudelik hierop gehamer.

Reeds in 1976 het Pienaar geskryf “wanneer die Transkei onafhanklik word, moet ’n oplossing vir Soweto gevind word”. Ná die onluste het Cillié geskryf die konsep van “aparte vryhede” het misluk en in die “permanente onvryheid van belangrike dele van die bevolking ontaard”.

In die jare tagtig het die rol van die ANC ’n sentrale aspek geword, en ook hier het die Pers-koerante voor geloop.

Die eerste skoot is in Januarie 1981 geskiet, toe Ton Vosloo, redakteur van Beeld, in sy rubriek (met ’n aantal voorbehoude) geskryf het “die dag sal kom dat ’n Suid-Afrikaanse regering met die ANC om die tafel van onderhandeling gaan sit”.

Ton Vosloo

 

Ton Vosloo, redakteur van Beeld, het in sy rubriek geskryf dat “die dag sal kom dat ’n Suid-Afrikaanse regering met die ANC om die tafel van onderhandeling gaan sit”.

Die Burger se Dawie (Wiets Beukes) was in November 1987 die eerste Nasionale Pers-kommentator wat die vrylating van Nelson Mandela bepleit het.

Binne ’n paar maande het ook Die Volksblad en Beeld gevolg. Kommentators meen dan ook dat die Naspers-redakteurs die Afrikaners voorberei het vir die veranderings wat in 1990 sou volg.

Pers en Party

In 1915 is Die Burger as die Kaaplandse NP se amptelike orgaan aangewys, en vanaf 1933 is die redakteur van Die Burger uitgenooi om die NP se parlementêre koukusvergaderings by te woon. Dié gewoonte is in 1954 verbreek, maar daarna het die redakteur nog vergaderings van die Kaaplandse NP se Hoofraad bygewoon. Kort nadat Ebbe Dommisse begin 1990 redakteur geword het, het hy alle formele bande met die NP verbreek omdat hy gemeen het “dit plaas die koerant se onafhanklikheid en geloofwaardigheid onder verdenking”.

Maar hoewel die Pers homself as ’n bondgenoot van die Party beskou het, het Pienaar gepraat van “onafhanklikheid-in-gebondenheid, onafhanklik in die handhawing van sy joernalistieke taak, gebonde aan sy mede-stryders in die Afrikaans-nasionale beweging . . .”

Dié “onafhanklikheid” was geen leë begrip nie. Die bronne is deurspek van verwysings na skerp openbare aanvalle van NP-politici op die Pers se koerante, vergaderings tussen verteenwoordigers van die Pers en die Party, en vergeefse pogings van die Party om gehoorsaamheid by die Pers af te dwing. Tog het Pienaar en die ander Naspers-grotes gemeen die NP bly die enigste orgaan wat hervorming teweeg kan bring, en dus was daar ondanks die opbouende spanning geen breuk nie. In 1978 het die koerante wel die bal laat val deur die aanvanklike onthulling van die Inligtingskandaal aan die Engelstalige pers oor te laat.

In dié jaar het PW Botha premier geword. By die Pers was die verwagtinge groot.

Dit sou verander, mede deur Botha se berugte humeur. In 1983 het dit byna tot ’n breuk gelei toe Botha op ’n vergadering ’n verwoede aanval op Lang Dawid de Villiers, die Pers se besturende direkteur, gedoen en hom – in Ton Vosloo se woorde – “met bytende sarkasme ge-gesel” het. Piet Cillié “het nog rede probeer aanvoer, maar PW het bo-oor ons geloop soos ’n regte bullebak”. Toe die Naspersers ná die tyd uitstap, was Vosloo se kommentaar dat dit hom laat dink aan die Skot wat in 1952 ná die afranseling van die Skotse rugbyspan deur die Springbokke gesê het: “We were beaten by 44-0, and we were lucky to get nil.”

Die verhouding is nooit heeltemal herstel nie. Toe Botha in Januarie 1989 ná ’n beroerte besluit om die leierskap van die NP af te staan maar president te bly, het die koukus FW de Klerk as nuwe leier aangewys. Dit het ’n onhoudbare situasie geskep, en weer het die redakteurs hul gewete gevolg. Die Burger het geskryf: “ ’n Party met ’n hoofleier van wie die hande afgekap is, is ’n party sonder arms.” Soos Wiets Beukes aan Piet Cillié verduidelik het: “Ons sê op ’n reguit maar beskaafde manier aan Botha die tyd het gekom dat hy sy goed vat en loop.” Die ander Naspers-koerante het hulle hierby aangesluit. Dit het ’n beduidende rol gespeel om Botha te laat bedank en as Staatspresident deur De Klerk vervang te word.

Daarmee het die Naspersers hul strategiese oogmerk sedert die laat sestigs – om apartheid ingrypend te hervorm en ’n inklusiewe politieke bedeling vir al die bevolkingsgroepe onder leiding van die NP te kry – bereik.

■ Dié is ’n verkorte uittreksel uit ’n Konstante Revolusie: Naspers, Media24 en Oorgange saamgestel deur Lizette Rabe en uitgegee deur Tafelberg.

 

05_Naspers

Enjoyed this post? Share it!