Navorsing toon dat Suid Afrikaanse bejaardes aan wanvoeding ly

Navorsing deur die Universiteit Stellenbosch wys bejaardes in Suid-Afrika ly aan wanvoeding.

’n Kommervrye oudag is ongelukkig nie vir baie Suid-Afrikaners bo 60 beskore nie, het Maritha Marais, senior lektor in menslike voeding aan die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe, bevind. Die navorsing is onder alle rassegroepe in stedelike en landelike gebiede gedoen.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het in 2015 ’n wêreldverslag oor bejaardes en voeding uitgereik. “Wanvoeding is ’n groot probleem by bejaardes en word dikwels onderskat, ongediagnoseer en onbehandel,” sê Marais.

Sy meen een van die redes waarom baie bejaardes in Suid-Afrika aan wanvoeding lei, is omdat hul maatskaplike toelaag dikwels gebruik word om die res van die huishouding te voed.

“Bejaardes tel onder die armste van die armes en baie is afhanklik van maatskaplike toelae om te oorleef,” sê sy.
Sy meen meer moet gedoen word om in bejaardes se voedingsbehoeftes te voorsien, aangesien hul reg op optimale gesondheid en ’n waardige bestaan in wetgewing beskerm word.

“Bejaardes se welsyn moet ’n prioriteit wees in maatskaplike ontwikkelings-, gesondheids- en voedingsprogramme om gehalteversorging vir ouer mense te verseker,” sê Marais.

Luidens die navorsing is dit noodsaaklik om wanvoeding onder die toenemend ouerwordende bevolking te beperk, aangesien die versorging van verswakte persone die las op gemeenskapsbronne, hospitaalkoste en versorgingsgeriewe verhoog.

Marais sê gesondheidswerkers, versorgers, familie en vriende moet bemagtig word om vroeë tekens van wanvoeding en swakheid raak te sien en aandag daaraan te kan gee. Hiervoor moet meer versorgers en familielede opleiding ontvang van dieetkundiges, sê sy.

Deur: Jana Marx/Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!