Nederlander erg gemartel voor dood – “Ons het ‘n African Dream gehad…”

Ons het ʼn African dream gehad, weet jy, ons wou net gelukkig hier kom lewe.

Arine Prins gaan haar man se liggaam terug Nederland toe vat nadat hy wreed op ‘n plaas in Mpumalanga vermoor is.

Peet van Es (54), sy vrou, Arine, en ‘n vriend is Vrydagaand op die plaas Moseley in Barberton deur vyf gewapende mans oorval.
“Dit was so 20:30 en daar het ʼn vriend van ons by ons gekuier. Ek en hy was onder in die huis en Peet het op die boonste verdieping geslaap. Drie gewapende mans met balaklawas aan het daar ingestorm. Hulle het my en die vriend met elektriese kabels vasgebind, hom beveel om in die hoek te ‘slaap’ en is toe op boontoe na Peet toe,” het Prins gesê.

Volgens Prins is haar man erg gemartel. “Hulle het hom vir vyf lang ure gemartel en sy lyf rondgesleep op die vloer, ek kon dit hoor. Daar het intussen nog twee aanvallers bygekom.

Hulle het hom met golfstokke geslaan, gesteek met messe en stokke en met spykers gemartel … vir vyf ure lank. Hulle het sy kop oopgeslaan, selfs van sy tande was uit,” het Prins gesê.

Prins het gesê die twee aanvallers wat onder in die huis was het haar ook gemartel. “Hulle het my met ʼn plastieksak probeer verwurg en aanhoudend geslaan. Hulle het my ook probeer verkrag. Hulle het álles gesteel – skootrekenaars, tabletrekenaars, selfone en juwele wat ek by my ouers gekry het.”

Volgens Prins was daar kontant in die huis aangesien die mense wat in die tweede huis op die plaas bly daardie dag hul huur betaal het. “Hulle het selfs die bad opgelig om te kyk of iets nie dááronder weggesteek is nie. Hulle het al my klere met ʼn tipe swaard afgesny, hulle het al die sakke in die huis ook oopgesny en gesoek na geld of ander besittings; hulle het selfs my waterbed oopgesny.”

Van Es en Prins het in 1999 Suid-Afrika toe geïmmigreer van Nederland af. “Ons het ʼn African dream gehad, weet jy, ons wou net gelukkig hier kom lewe. Peet was ʼn siviele ingenieur en het baie werk in Mosambiek gedoen; ek wens hy het daar gebly.”
Volgens Prins sal Van Es in Nederland begrawe word. “Ek gaan beslis net ʼn paar goed stoor en die res verkoop, ek gaan terug huis toe. Ek sal hom ook nooit hier laat begrawe nie. Ek gaan hom huis toe vat …

Ek het soveel vrae. Hoekom ons? Hoekom net vir hom? Het iemand hulle betaal om dit te doen? Hy was so
vredeliewend, hy het nooit enige mens of enige dier seergemaak nie. Ek is sat vir hierdie land. Ek wil geen
verbintenisse meer hier hê nie. Ek gaan dit nie net hier laat en maak asof my man se lewe niks werd was nie.”

Prins het gesê die moordenaars het eers probeer om haar voertuig, ʼn Land Rover, te steel, maar kon dit nie aangeskakel kry nie. “Hulle het toe ons vriend se Chevrolet-bakkie gevat en gevlug.”die voertuig se registrasienommer is FVD 843 MP.

Die moord op Van Es het intussen die internasionale nuus gehaal. Die meeste van Nederland se media het ook daaroor berig. Martin Bosma, lid van die Nederlandse Tweede Kamer en die Partij voor de Vrijheid, het in ‘n e-pos verklaring gesê hy het Nederland se minister van buitelandse sake versoek om antwoorde te gee oor hoe hulle Nederlanders se veiligheid in Suid-Afrika sal verseker.

Volgens Lt. Kol. Ruben Pilusa, woordvoerder van die polisie, het is nog niemand in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. “Dit blyk dat die verdagtes buite ons polisiëringsgebied is,
maar ek belowe jou dat iets gaan gebeur,” het Pilusa gesê.
ʼn Saak van roof en moord word ondersoek.


 

Enjoyed this post? Share it!