New York Times betig Zuma

Zuma NY

In ‘n hoofartikel in The New York Times op 20 Desember word in ‘n striemende aanval teen pres. Jacob Zuma, gesê dat hy die land te veel skade berokken het om net skotvry daarvan af te kom.
Die koerant looi hom oor sy afdanking van die Minister van Finansies, Nhlanhla Nene en sê dat selfs die aanstelling van Pravin Gordhan het nie die gemoedere in Suid-Afrika kalmeer nie.
Die koerant verwys na hoe die wêreld uitgesien het na die nuwe demokrasie maar soos die ANC hom gevestig het en vyf nasionale verkiesings gewen het, het korrupsie en nepotisme sy tentakels versprei, dikwels onder die voorwendsel om die ongeregtigheid van apartheid reg te stel.
Die artikel sê die agteruitgang van die land onder Zuma is skokkend. Hy het gereeld vriende en familielede in senior poste geplaas en openbare instellings verswak. Hy het niks gedoen om korrupsie te stop nie, en die staatsdiens, wat 40% van die begroting opeis, is roekeloos vergroot. Hy het ook miljoene rande se staatsgeld bestee om vir homself ’n landgoed te bou.
Voorts sê die artikel dat gelukkig het die Suid-Afrikaanse instellings, veral die howe, nie gebuig voor Zuma en sy makkers nie en ’n vaste fondament gelê waarop ’n eerlike en vaardige regering gebou kan word. Maar vir dit om te gebeur, moet die ANC homself ondersoek, asook die plundering van die afgelope 20 jaar.
In nog ’n artikel oor Zuma skryf die Britse Daily Mail die president is ná sy afdanking van Nene gedwing om ’n buite-egtelike verhouding te ontken.
Dit kom ná beweringe dat hy en Dudu Myeni, voorsitter van die raad van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), intiem bymekaar betrokke is, en die presidensie se ontkenning daarvan.
Beweringe van ’n romantiese verhouding en ’n kind is ongegrond en is ontwerp om die president in ’n swak lig te stel, het die presidensie gesê. -Vryburger

Enjoyed this post? Share it!