Niemand nog vas ná man in huis vasgebind is

George. – Niemand is nog aangekeer in verband met die voorval die afgelope naweek waarin ’n man eers meer as 36 uur nadat hy in ’n huis op George vasgebind en beroof is, bevry is nie.

Die 36-jarige man se nagmerrie-ondervinding het Vrydag kort ná 22:00 begin. Hy is eers Sondag kort voor 11:30 bevry nadat die polisie se hulp ontbied is.

Die man is Vrydagaand in die huis oorrompel en oor die kop geslaan. Hy het sy bewussyn verloor en dit eers Saterdag herwin.

 Die polisie het Sondagoggend op die vasgebinde man afgekom en hom bevry.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het gesê die ondersoek gaan voort. “Die ondersoek word volledig gedoen na aanleiding van leidrade en forensiese bewyse.

“Gissings en gerugte wat versprei word, kan die ondersoek laat ontspoor.”

Volgens Pojie is daar beslis ’n misdaad gepleeg.

Die polisie doen ’n beroep op die gemeenskap om na vore te kom as hulle oor inligting oor die voorval beskik.

Die man het nie ernstige beserings opgedoen nie, maar is getraumatiseer.

Enigiemand met meer inligting kan ao. Jerome Malan by 082 297 9629 bel of gedurende kantoorure by 044 803 4715.

Bron Netwerk24

Enjoyed this post? Share it!