Nkosi-stad sal buite Nelspruit opgerig word

‘n Sogenaamde agri-stad gaan in Oos-Transvaal ten weste van die Krugerwildtuin teen ‘n koste van R6 miljard opgerig word.

Die beplande Nkosi-stad sal buite Nelspruit deur die inwoners van Pienaar op 968 hektaar gebou word om glo heeltemal selfonderhoudend te wees.

Elke eiendom of erf sal volgens die beplanning ‘n organiese plaas wees wat produkte soos groente en sitrusvrugte vir die mark produseer. Die verwerking van produkte sal ook in die landboustad gedoen word.

Volgens die eiendomsontwikkelaar, Philip Kleijnhans, sal Nkosi-stad ‘n stedelike plaasprojek op ‘n wetenskaplike grondslag wees, veral om werk te skep.

Altesaam 3 000 laekoste huise, 800 middelslag huise en 700 hoë inkomste huise maak deel uit van die beplanning.

‘n Nuwe hek sal ook na die Krugerwildtuin geopen word om voordeel te trek uit die toerismebedryf aangesien ‘n lodge in Nkosi-stad opgerig sal word.

Die projek word al ses jaar lank beplan, maar die Oos-Transvaalse regering wou aanvanklik nie sy gewig daarby ingooi nie. Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming se minister Gugile Nkwinti het egter sy steun aan die plan gegee.

Foto – Nkosi-stad

Bron: Vryburger


Enjoyed this post? Share it!