Nog meer misdaad, die keer binne die SA Weermag !!

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) moet begin aandag gee aan dissipline en gewone misdaad binne die weermag voordat hy die vertroue van die publiek in hom totaal verloor, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor verdediging.

Dr. Groenewald het met die begrotingsposdebat oor verdediging en militêre veterane gesê die minister en ander persone maak groot gewag van kubermisdaad, terwyl hulle eerder aandag moet gee aan gewone misdaad in die SANW.

“Ek is baie bekommerd oor gewone misdaad in die SANW. In ʼn vraag van my aan die minister oor wapendiefstal in die weermag oor die finansiële jare 2013 tot 2015, was die antwoord dat daar sowat 33 000 rondes ammunisie en agtien vuurwapens, wat gevaarlike wapens soos aanvalsgewere insluit, in daardie tydperk gesteel is.

“Verlede jaar in hierdie debat het ek verwys na die voorval in Bloemfontein waar aanvallers met messe wagte van die weermag oorval het terwyl hulle met vuurwapens en lewende ammunisie moes wagstaan, maar aan diens geslaap het.

“Onlangs by die vlootbasis Simonstad het misdadigers ingebreek, 72 handgranate gesteel tesame met ʼn aanvalsgeweer of twee en daarmee weggekom.

“Besef die minister wat 72 handgranate kan veroorsaak? Ons sien wat in die wêreld gebeur waar daar in terreurdade ontploffings tussen mense is. Besef die minister die moontlike implikasies van dié diefstal?

“By die ammunisiedepot by Jan Kempdorp het misdadigers vir twee weke langs die grensdraad gekamp. Hulle het ʼn gat onderdeur die grensdrade gegrawe en kabel oor ʼn tydperk van ʼn paar weke binne in die depot gesteel.

“Onlangs in Kayelitsha het misdadigers vir alle praktiese doeleindes ʼn militêre basis aangeval en wapens gesteel. Dit beteken die weermag dwing geen respek meer by misdadigers af nie. Hulle skrik nie meer vir die weermag nie.

“As dit die toestand van die weermag van ʼn land is, het die publiek sy respek vir hom verloor. En die groot probleem is dissipline. ʼn Weermag kan nie funksioneer sonder dissipline nie.

“Wat het gebeur met die wagte wat geslaap en beroof is? Hulle is wel aangespreek, maar moes ontslaan gewees het.

“Die swak dissipline en die swak bestuur in die nasionale weermag is tans van so ʼn aard dat dit bydra tot die misdaad in die land en dit is ʼn klad op die naam van die SANW,” sê dr. Groenewald.


Enjoyed this post? Share it!