Nog ‘n boer koelbloedig in Noordwes Provinsie vermoor

Patrick Itumeng (68) het die naweek die vierde boer in Noordwes geword wat die afgelope drie maande in ’n plaasaanval in die provinsie vermoor is.

Itumeng is vermoor net ’n dag voordat Elsa Erasmus (74) op haar plaas in die Schweizer-Reneke-distrik vermoor en moontlik ook verkrag is.

Itumeng en sy vrou is Vrydagaand op hul plaas Friesland in die Vryburg-distrik oorval. Volgens sers. Kelebogile Moleko, polisiewoordvoerder in Noordwes, het vyf rowers die Itumengs oorval, met wapens gedreig en geld gevra. Terwyl Itumeng se vrou geld gaan haal het, het ’n struweling tussen hom en die rowers ontstaan.

DIS DIE NUUTSTE IN ’N REEKS VOORVALLE. ITUMENG EN ERASMUS HET DIE REG GEHAD OM VEILIG IN DIE HUIS TE WEES, MAAR HULLE IS AANGEVAL EN HY IS VERMOOR.
SP Motswenyane, waarnemende DA-leier in Noordwes.

“Vier skote het afgegaan, waarvan een die man in die kop en sy vrou in die hand getref het.”

Moleko sê Itumeng is op die toneel dood en sy vrou is steeds in die hospitaal. “Ons kan nie nou al haar naam bekend maak nie.”

Dis nie seker of enigiets uit die Itumeng-huishouding gesteel is nie. Die rowers is nog op vrye voet. Die polisie ondersoek ’n saak van moord en poging tot moord.

SP Motswenyane, waarnemende DA-leier in Noordwes, sê die party veroordeel “hierdie aaklige moorde” ten sterkste.

“Dis die nuutste in ’n reeks voorvalle. Itumeng en Erasmus het die reg gehad om veilig in die huis te wees, maar hulle is aangeval en hy is vermoor. Ons gebede en gedagtes is by hul geliefdes en die hele gemeenskap wat geraak word deur sulke lafhartige misdade.”

B.C. Greyling is in Mei naby Sannieshof doodgeskiet en Hanno Steyn op 16 Junie naby Lichtenburg.

Motswenyane sê die DA vra lankal vir die stigting van landelike veiligheidseenhede in boeregemeenskappe. Dié onlangse aanvalle wys hoe noodsaaklik dit is.

“Ons weet boeregemeenskappe is besonder kwesbaar vir geweldsmisdade en opruiende uitsprake soos dié van Supra Mahumapelo (Noordwes se premier) vererger dit.” Mahumapelo het die naweek op die ANC se beleidskonferensie gevra vir ’n referendum om die Grondwet te verander sodat grond sonder vergoeding afgevat kan word.

Motswenyane sê boere kry reeds swaar weens die droogte en die premier se uitsprake dra nie by tot ’n inklusiewe samelewing waar mense veilig kan woon en werk nie.

Agri Noordwes en AfriForum het Mahumapelo voorheen ook gekritiseer dat sy beweerde rassistiese en anti-wit-uitsprake ’n klimaat van onverdraagsaamheid skep.

Sy woordvoerder, Brian Setswambung, het dit egter ontken en sê daar is verskeie programme in die provinsie om heling en versoening tussen rasgroepe te bewerkstellig.


Enjoyed this post? Share it!