Nog ‘n moord op bejaarde egpaar vind plaas in Limpopo – moord en dood het geen einde in SA nie

’n Geliefde jare lange inwoner van Haenertsburg is Donderdagoggend vroeg dood nadat hy en sy vrou deur twee mans op hul hoewe buite die dorpie in Limpopo aangeval is.

Robert (Oki) Turner (66) is in sy bobeen geskiet en is erg aangerand. Sy vrou, Debbie (66), is deur twee mans rondgepluk. Sy het ligte beserings opgedoen.

Jane Hillary, Robert se suster, sê die moord op haar broer en aanval op haar skoonsuster “was baie gewelddadig”.

Volgens haar het Robert Woensdagaand uit die huis gegaan om ’n waterpomp op die hoewe af te skakel. Die hoewe is in die omgewing van die Cheerio Gardens-troulokaal, wat elke jaar in die lente besoekers lok wanneer die kersiebome bot. Dit is ’n beboste, bergagtige gebied.

“Ek weet nie of hy buite of binne-in die huis oorval is nie.”
Hillary sê die twee aanvallers het haar broer gevra vir die kluissleutels.
“Hy wou dit nie vir hulle gee nie en toe skiet hulle hom.”

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die mans het die kluis oopgebreek en het minstens sewe wapens gesteel.

Volgens Hillary het haar oorlede pa verskeie wapens aan Turner agtergelaat.
Nadat die aanvallers gevlug het, het Debbie dit reggekry om ’n beesklok buite die huis aanhoudend te lui sodat ’n nabygeleë buurman dit kon hoor.
“Hy het gelukkig gereageer en die plaaswag, nooddienste en polisie laat weet,” sê Hillary.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê ’n bebloede Turner het in die kombuis van die huis gelê toe hulle opgedaag het. Debbie is in ’n slaapkamer gekry.

“Die man het benewens die skietwond verskeie groot gapende wonde gehad. Die nooddienswerkers moes eers gevorderde noodhulp op hom toepas sodat hy gestabiliseer kon word.”

Turner en Debbie is toe per ambulans na die Mediclinic Tzaneen vervoer.
Marlize Delport, woordvoerder van Mediclinic Tzaneen, sê Turner is in die waakeenheid dood. Sy sê Debbie is vir haar beserings behandel, maar is nie in die hospitaal opgeneem nie.

Volgens inligting van ’n plaaswag het die twee rowers albei denims en windbrekers aangehad. Hulle het ook klein rugsakke gedra.

Ngoepe sê ’n reusesoektog is na die mans begin.

In Januarie is Richard Wiggill (72) en sy vrou, Anita (64), ook op ’n hoewe in die Haenertsburg-gebied oorval en aangerand. Hulle het bebloed deur die bosse gestrompel na bure om hulp te kry.


Enjoyed this post? Share it!