Nog ‘n program waai by SABC

Nog ‘n program gaan by een van die SABC se radiostasies waai te midde van die opruimingsproses waarmee die instansie se hoogs omtrede bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng en van sy kollegas besig is.

Hierdie keer gaan die nuusbesprekingsprogram op Sondagaande, RSG se Kommentaar, sneuwel weens die SABC se veldtog teen politieke kritiek. Die aankondiging volg kort nadat die valblyl ook The Editors op SAfm getref het, maar volgens die SABC se woordvoerder vorm dit net deel daarvan om ou programme met nuwes te vervang.

Die bestuurstyl van die SABC spreek uit die feit dat nie eens die uitvoerende regisseur van Monitor, Spektrum en Kommentaar, Foeta Krige, bewus was van die besluit nie. Volgens ‘n geskokte Krige is nie die nuusafdeling of RSG se bestuur oor enigiets geraadpleeg nie.

Van die deelnemers aan Kommentaar het ook hul skok en bekommernis uitgespreek oor die joernaalprogram wat skielik na 25 jaar van die lug gaan verdwyn.

Die oud-joernalis, Max du Preez, is na wat berig word, glo woedend oor die besluit.

Die SABC moet vandag aan die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Okosa) redes verskaf waarom hy weier om beeldmateriaal van protesoptredes uit te saai.

Dit spruit voort uit ‘n klag deur die Media Monitoring Project (MMP) dat die SABC sy plig as openbare uitsaaier versuim en dat die verbod die grondwet oortree. Die verbod kom op sensuur neer, aldus William Bird van die MMP.

Foto – SABC se Hlaudi Motsoeneng

Bron: Vryburger


Enjoyed this post? Share it!