Nog ‘n reus in Afrikaanse literêre kringe sterf – Rus in vrede PG Du Plessis

SAUK het met leedwese verneem van die afsterwe van nog ‘n reus in ons Afrikaanse literêre kringe.

PG du Plessis, beminde storieman, skrywer, joernalis en TV persoonlikheid is op Woensdag 7 Junie 2017 op die ouderdom van 83 oorlede na ‘n lang stryd teen kanker.

Du Plessis was bekend by kykers van Spies en Plessié vir sy fyn humorsin. Sy towerkrag met woorde het op verskeie gebiede gemanifesteer en verskeie genres, insl draaiboeke, kortverhale, romans en dramas het uit sy pen gekom. PG het dikwels sosiale kommentaar gelewer op die Afrikanersamelewing. Hiervan was “Siener in die suburbs”, “Fees van die ongenooides” en die beminde karakters van Genis, Mietie en Veldsman in sy immergroen “Koöperasiestories” sprekende voorbeelde.

Du Plessis is die tweede bekende Afrikaanse skrywer wat ons binne enkele weke ontval, na die afsterwe van Karel Schoeman onlangs.

Ons betuig graag ons diepste meelewing met oom PG se familie en naasbestaandes en ons hys’n vlag vir ‘n man wat sterk mure om ons kultuur en taal help bou het.


Enjoyed this post? Share it!