Nog ‘n Suid Afrikaanse bank skop Gupta’s uit!

‘n Vyfde Suid-Afrikaanse bank het sy deure gesluit vir die rekeninge van die omstrede Gupta-familie, berig City Press.

Die Venda Bougenootskap (VBS) Mutual Bank weier ook nou om sake met die Guptas te doen en het twee van die familie se rekeninge gesluit.
VBS is dieselfde bank wat vir pres. Jacob Zuma ’n lening van R7,8 miljoen toegestaan het sodat hy die staat kon terugbetaal vir sy gedeelte van die rekening om die Nkandla-woning se veiligheid op te skerp. Dit was nadat Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, hom hiertoe gelas het.
Die twee Gupta-rekeninge, wat albei sakerekeninge is, is in Januarie gesluit nadat die bank se base daaroor beraadslaag het.
Die bank het ’n bondige brief wat 9 Maart gedateer is aan Ronica Ragavan, waarnemende uitvoerende hoof van Oakbay Investments – die houermaatskappy van die Gupta-familie se onderneming in Suid-Afrika – gestuur.

Die brief lees: “Kennis word hiermee gegee dat VBS Mutual Bank, ingevolge ons risikobestuursraamwerk, u versoek om nuwe rekeninge van die hand gewys het asook (jul) voortgesette verhouding met die bank.”

In dié brief word voorts verduidelik dat die Guptas se rekening tot 22 Mei oop sal bly, “waarna jul bestaande rekeninge gesluit sal word.”

“Verskaf asseblief bankrekeningbesonderhede (van ’n ander bank) waarheen die geld uit al julle rekeninge oorgeplaas kan word.”

Ndivhuwo Khangale, woordvoerder van die VBS, wil geen verdere besonderhede verskaf nie en sê: “Ons word deur die bank-kliënt-vertroulikheidsklousule gereguleer en kan nie meer inligting gee nie.”

City Press het egter verneem dat die VBS-raad die Guptas se heraansoek vir nuwe rekeninge geweier het nadat hul geoutomatiseerde risikostelsel vir finansiële veiligheid in Januarie geaktiveer is en dit die Guptas uitgeskop het omdat hulle “polities blootgelê” is.
“Die risikokantoor het opgetel dat die Guptas twee rekeninge by die Johannesburgse tak van die bank geopen het toe die stelsel gewaarsku het dat hulle ’n risiko is.”

Al vier die land se grootste banke het verlede jaar reeds geweier om verder met hul familieondernemings sake te doen – sonder om redes te verskaf.
KPMG, die familie se ouditeursfirma, het ook sy verhouding met die Guptas beëindig.


 

Enjoyed this post? Share it!