Noodroep: Boere beveilig julleself, skerp jou sekuriteit op

Boere en plaasbewoners word opgeroep om hulle eie veiligheid in en rondom hulle huise op te skerp.

Die oproep kom van TLU SA se voorsitter in die Noordstreek, mnr. Steven Vermaak, na die gewelddadige tydperk wat in Augustus 2017 beleef is met 34 plaasaanvalle en 8 moorde.

“Elke boer en plaasbewoner moet gaan kyk en besef wat rondom ons gebeur. Is ons boere en plaasbewoners nog betrokke by landbou organisasies wat landelike veiligheid strukture op die platteland bedryf? Is ons hoegenaamd nog by enige steun organisasies betrokke, of sit ons apaties op ons plase en hoop ’n aanval gebeur nie op jou en jou gesin nie? Gaan ons nog op ons knieë om uitkoms te soek?” sê mnr. Vermaak.

Mnr. Vermaak het ook sy tevredenheid uitgespreek na die arrestasie van agt verdagtes in verband met die moord op Piet en Tilla van Zyl. Mnr. Vermaak, wat ook ‘n direkteur is van die Heritage Protection Group (HPG) sê sedert die moord was daar onophoudelik deur verskeie spanne gewerk om leidrade op te volg wat gelei het tot hierdie inhegtenisnemings. Hy bedank die SAPD lede van Limpopo en Mpumalanga, asook die van Qiniso Lonke wat met die ondersoek gehelp het. HPG se eie mense het ook onverpoosd met hulle ondersoek voort gegaan. Hy doen ook ’n beroep op oningeligte persone wat die sosiale media gebruik om nie enige name of ander inligting te plaas nie, aangesien dit die ondersoek kan kniehalter.

“Die koelbloedige moord op Piet en Tilla van Zyl en andere laat ’n groot leemte in die onmiddellike samelewing. Mense wat altyd daar was om ander te help is skielik nie meer daar nie. Daar is niemand wat hulle plek in die gemeenskap kan vul nie. Die gemeenskap is soveel armer sonder daardie boer en sy vrou wat deur ’n sinnelose aanval uit die gemeenskap verwyder is,” sê mnr. Vermaak.


Enjoyed this post? Share it!