Noordwes premier word as as ‘Mamparra van die Jaar’ aangewys deur DA

Die DA in Noordwes het die premier, Supra Mahumapelo, Maandag as die “Mamparra van die Jaar” aangewys.

Die party meen hy en byna sy hele kabinet moet bedank omdat hulle almal vanjaar druiprapporte huis toe neem weens die benarde toestand van die geld- en bestuursake van byna alle regeringsdepartemente en munisipaliteite in dié provinsie.

Die DA het Maandag rapporte aan Mahumapelo en sy kabinet uitgedeel. Mahumapelo het so swak gevaar dat selfs ’n F-punt nie voldoende is nie en hy in die hoësorgeenheid hoort.

“Nie net wou hy ’n private straler koop nie, maar ook R6 miljoen aan ’n standbeeld vir pres. Jacob Zuma bestee. Dis danksy die DA gestuit,” sê Joe McGluwa, DA-leier in Noordwes.

Die party het Mahumapelo weer oor die kole gehaal weens sy uitlatings vroeër vanjaar op die begrafnis van Matlhomola Mosweu (16) in Coligny dat “wit mense hom vermoor het”.

Mahumapelo het wel agterna om verskoning gevra en gesê die provinsie probeer versoening tussen rasse bevorder.

“Noordwes ontvang voorts jaar na jaar van die swakste oudits landwyd,” sê McGluwa. “Die OG het bevind die gebrek aan aanspreeklikheid en ’n verbintenis tot skoon administrasie is die grootste rede vir die afwaartse spiraal in Noordwes se geldsake.”

McGluwa sê werkloosheid in die provinsie het nou al tot byna 1 miljoen gestyg.

Die speaker, Susana Dantjie, is onder die beste presteerders in die kabinet, met ’n D-simbool. Die DA maan egter sy moet haarself “regruk”, onder meer weens onreëlmatige besteding van R102 miljoen in die vorige boekjaar.

Die provinsiale regering gaan voort om programme te implementeer wat dienslewering bespoedig. Die premierskantoor evalueer prestasie en gryp in (waar nodig). Ons doen kwartaalliks in die Noordwes-wetgewer verslag oor ons prestasie.

Brian Setswambung, woordvoerder vir die premierskantoor in reaksie op die rapporte.

Wendy Nelson, die LUR vir finansies en ekonomie, kry ook ’n D. “Noordwes se regeringdepartemente het (in die vorige boekjaar) altesame R800 miljoen onreëlmatig bestee, meestal weens die nienakoming van tersaaklike wetlike prosesse,” sê McGluwa. “En tog is daar geen gevolge vir wanbesturende amptenare nie.”

Fenny Gaolaolwe, LUR vir plaaslike regering, hoort volgens die DA ook in die hoësorgeenheid, veral omdat nie een munisipaliteit in Noordwes die vorige boekjaar ’n skoon oudit kon kry nie.

Noordwes se premier

Supra Mahumapelo (links), Noordwes se premier, en pres. Jacob Zuma naby Groot Marico toe ‘n standbeeld vir Zuma langs die N4-snelweg onthul is.

Een van die redes hoekom die DA Supra Mahumapelo, Noordwes se premier, Maandag as Mamparra van die Jaar aangewys het: Die oprig van ’n standbeeld van R1,7 miljoen vir pres. Jacob Zuma in Groot Marico. Hier is die premier en die president saam by die onlangse onthulling van die standbeeld.Foto: Verskaf

Nog gruwels waarvoor die DA haar aanspreeklik hou, is die OG se bevinding dat kontrakte toegeken word aan kontrakteurs wat nie kwalifiseer nie en die oprigting van ’n standbeeld van R1,7 miljoen vir Zuma in Groot Marico, waar 400 huishoudings geen sanitasiegeriewe het nie.

“In Matlosana (Klerksdorp-omgewing) vloei onbehandelde rioolvuil die rivier in,” sê McGluwa. “Plaaslike regerings word ook nie gehelp om hul Eskom-skuld te delg nie.”

Oor Madoda Sambata, wat tot in Junie die LUR vir openbare werke was, sê die DA: “Hy was ’n epiese mislukking. Die premier het hom gepos weens bedrog. Onder sy leiding was skoolvervoer chaoties en

R130 miljoen wat vir vervoerinfrastruktuur bedoel was, is nie bestee nie.”

Nog LUR’e wat volgens die DA in die hoësorgeenheid hoort, is Sello Lehari (onderwys), Ontlametse Mochware (kultuur, kuns en tradisionele sake), Magome Masike (gesondheid) en Manketsi Tlhape (landelike en landbou-ontwikkeling).

Probleme in dié departemente sluit in kontraktuele bedrog, miljoene rande se onreëlmatige besteding, oorlaaide skole met tot 100 kinders in sommige klasse en die gebrekkige navolging van verkrygingsprosedures. Die departement van gesondheid is sedert April 2015 onder finansiële administrasie.


 

Enjoyed this post? Share it!