Nuuskommentaar: Fopnuus en betaalmure

Foto ter illistrasie

Kan dit wees dat ons, te midde van ’n inligtingsontploffing, vervlak in ons vermoë om te onderskei tussen belangrike nuus en sensasionele nuus, en dat ons debatsvermoë deur toenemende fopnuus ondermyn word?

Hoe sou dit gebeur dat ’n opskrif soos “Orania moet sluit, en skuif” met ’n meegaande berig ’n andersins gesaghebbende publikasie of nuuswebwerf haal? ’n Ingeligte leser se eerste instink sal wees dat dit ’n Aprilgek-storie is. Maar as dit nié 1 April is nie, sal daar dadelik vermoed word fopnuus het sy weg tot by die publikasie oopgebluf. Maar, so leer die ervaring, bitter baie mense sou met so ’n storie gevang gewees het.

Onlangs skryf Alida Kok, ’n dosent in politieke wetenskap aan Unisa, “die toenemende toeganklikheid van die internet en die vermenigvuldiging van mediaplatforms lei daartoe dat nuuswaardige sake baie meer intensief en meer herhaaldelik in die openbaar bespreek word”.

Dit lei, volgens haar, daartoe dat die “gier van die week” oor en oor bespreek word, en soms word ’n skewe realiteit geskep waarin die mense van Suid-Afrika moet leef. Sy het dit nie soseer teen fopnuus nie: “ʼn Groot deel van ons openbare debatte is skeefgetrek, word geweeg en te lig bevind. Op ’n verskeidenheid van mediaplatforms fokus kommentators, skrywers, joernaliste en nuusverbruikers op die ‘gier van die week’, wat in diepte bespreek en ontleed word.”

Dat daar meer mediaplatforms op die internet is, beteken ongelukkig nie meer dat die goeies vir die media toeganklik is nie.

Skrywers van nuuskommentare, analiste en rubriekskrywers ervaar nou met toenemende spoed en frustrasie dat die een oorsese publikasie na die ander wat hy deur die internet besoek, behoorlik in sy gesig toeklap. Die “lekker ou dae” toe ’n inligtinggebruiker sommer in ’n japtrap die nodige inligting kon bekom vir ’n artikel of rubriek, is vir goed verby. Die nuus dat jy jou in ’n betaalmuur vasgeloop het kom op verskillende maniere – jy het jou 40 keer se gratis toegang per maand bereik, en jy het nou soveel opsies om te betaal om verder te kan lees. (En nee, dit help nie altyd om self by te hou hoeveel keer jy al iets in ’n bepaalde publikasie gelees het nie, daai metertjie tel soms aan die rowwe kant).

Of die publikasie lig jou in die artikel is ’n premium-artikel. Slegs intekenare het toegang tot daardie artikels.

Voorts loop veral ernstige wetenskap-verslaggewers hulle daarteen vas dat baie vakjoernale op die internet nou ook ’n betaling vereis. Die joernalis het andersins slegs toegang tot die opsomming, of andersins artikels wat ander joernaliste, wat wel vir die toegang betaal het, oor die onderwerp geskryf het. Omdat dikwels met baie moeilike konsepte gewerk word, sluip daar dikwels baie groot foute in.

Om vir artikels in buitelandse publikasies te betaal, is vir die Suid-Afrikaanse joernalis onmoontlik. Weens die rand se waarde teenoor bykans elke buitelandse valuta-eenheid, is dit gewoonlik bitter duur. As hy dan sowat 60 tot 90 artikels per maand moet koop, kos dit ’n fortuin.

Gewoonlik, met die leidrade van die deeltjie wat ’n mens te siene kry, kan jy dieselfde inligting Google.

Of, en hier lê die groot gevaar aldus nuwe navorsing wat gedoen is, wend die gefrustreerde nuusgebruiker hom weg van gerekende nuusplatforms en kry hy sy nuus via die sosiale media. Ook instansies wat nuus skep en wil seker maak dit bereik die media, soos die gedrukte media of die uitsaaimedia, en stuur nou ook hul nuus na hierdie sosiale media-webwerwe.

Kort voor lank word die sosiale media deur ’n oorbelading van nuus oorstroom. En so tussenin glip die fopnuus wat moeilik van werklike feite onderskei kan word, deur na die publiek.

Eion O’Carrol skryf in die Christian Science Monitor dat die helfte van die Amerikaners hul nuus via die sosiale media kry en dat baie in die proses fopnuus kry. En hoe meer die nuus instroom, hoe moeiliker word dit om die fopnuus uit te sorteer.

As voorbeeld noem hy ’n berig dat Nasa daarin geslaag het om kontak te maak met intelligente buite-ruimtelike wesens.

Dit is elke publikasie se reg om betaalplatforms in te stel. Sommiges bou hul sakeplanne rondom die konsep, terwyl ander hard probeer dat advertensies in die gedrukte koerant die nuus na die webweergawe volg.

Dat die “oorbelading” van nuus op die sosiale media tot ’n toename in fopnuus in die nuusruimte kon lei, is nou deur ’n matematiese metode bepaal. O’Carrol skryf voorts: “On a daily basis the onslaught of information is preventing us from being evidence-based decision makers, at our own peril,” aldus prof Daniel Levitin, hoogleraar in psigologie en gedragsneurowetenskappe by die McGill-universiteit in Montreal.

Kok sluit haar artikel af met die volgende advies wat ook deel van die antwoord kan wees hoe om blootstelling aan fopnuus te voorkom: “As burgers is dit ons plig om ons perspektiewe te verbreed en die balans in openbare debatte te herstel. ’n Manier waarop ’n mens dit kan doen, is om buitengewone plekke te besoek en met mense van ’n ander afkoms om te gaan. Kom ons hou mekaar op ons tone.”

Die debat oor die lonendheid van betaalplatforms is ook nog lank nie besleg nie. Volgens ’n artikel in The Conversation slaag sommige koerante daarin om ’n digitale betaalmuur te skep, en ander nie.

Enjoyed this post? Share it!