Nuuskommentaar: Praat Duduzane se pa die waarheid?

Pres. Jacob Zuma tydens ‘n vorige vraag-en-antwoord-sessie in die parlement. Foto: Parlement

As Duduzane se pa (pres. Jacob Zuma) Pinocchio was, hoe lank sou sy neus nou al gewees het?

Oor dié vraag moet noodwendig gou vaste duidelikheid verkry word, want indien Duduzane se pa die waarheid praat dat hy nog nooit sy invloed gebruik het om vir iemand staatskontrakte te kry nie, en dus ook nie sy kinders nie, dan is daar die afgelope dekade ’n bitter groot onreg teenoor hom gepleeg deurdat al wat analis en ontleder na sy bewind as een van patronaatskap verwys. Nie “na bewering” nie, maar as feit gestel. So ook word hy as ’n sentrale figuur beskou in die staatskaping waaroor die soeklig nou deurlopend op die Guptas (sy vriende) val.

Maar is daar ’n kat se kans dat die onteerde president die waarheid praat? Indien hy wel streng met die waarheid omgaan, is dit vir hom skynbaar onmoontlik om die vrae van opposisiepartye in die parlement oop en reguit te beantwoord, soos wat hy met die “vriendelike vrae” wat die ANC-lede rig, maak. Kom dit by die gelaaide vrae van die opposisie, is dit ’n bontpratery van ’n ander wêreld, en die naaste wat dit soms aan die beantwoording van die vrae kom, is dat hy hy het die betrokke vraag beantwoord. Dit dryf van die opposisiepartye teen die mure uit.

Wat wel as feit gestel kan word, is dat Zuma sy ampseed verbreek het, of soos die EFF dit stel, sy ampseed onteer het. Die konstitusionele hof het ook so bevind, en sommer ’n paar dwarsklappe na die parlement (lees die ANC in die parlement) uitgedeel. Hierdeur, meen die EFF, het Zuma sy aanspraak op die presidentskap verbeur, en tree nou in wese onregmatig as president op. ’n Boikotaksie van die “onwettige president” het, volgens die EFF, nie die gewenste uitwerking gehad nie, en gister was die EFF weer veglustig op hul poste in die parlement toe Zuma vrae beantwoord het. Oudergewoonte is hulle weer uitgegooi ook, terwyl die EFF-leier meen dis eintlik Zuma wat uitgegooi moes gewees het omdat hy nie die vrae beantwoord het nie.

Die EFF erken nie Zuma se presidentskap nie, en verwys neerhalend na hom as “Duduzane se pa”.

In ’n insiggewende verwikkeling het die leier van Agang SA, Andries Tlouamma, gesê hy wil ook nie hê Zuma moet die parlement toespreek nie, want Zuma se bewind is ’n misdaad wat nog steeds voortduur. Dit is onverbeterlik gestel. Dis egter effe onverwags aangesien Agang in die jongste verlede dikwels soos ’n “ANC-mini-me” begin optree het.

Die EFF en Agang was ook skerp daaroor dat die president hom “altyd met korrupte en onbevoegde mense” omring. Veral min. Faith Muthambi en die SAL-voorsitter, Dudu Myeni, asook die vorige de facto-hoof van die SAUK, Hllaudi Motsoeneng, het onder skoot gekom. Zuma het ook aangedui dat hy weier om min. Bathabile Dlamini af te dank.

Wat wel duidelik blyk, is dat diegene wat meen dat Zuma ’n duldbare president is, elke dag minder word.

Ongelukkig vir Zuma is die getuienis teen sy woord taamlik oorweldigend, soos ’n beëdigde verklaring van ’n senior amptenaar, Brent Simmons, dat hy waargeneem het hoe Zuma familielede na ministers verwys het met die duidelike opdrag dat die familielede staatskontrakte moes kry. Zuma het nie die vraag hieroor beantwoord nie, maar wel volgehou dat hy dit beantwoord het. Oor ’n ander geval waar hy glo samesprekings met een van die Guptas gevoer en toe gevra het dat vir Duduzane gesorg word, het Zuma ontken dat hy by so ’n vergadering was. In die dissiplinêre verhoor wat teen amptenare gehou word in verband met die Nkandla-sage, word ook volgehou dat Zuma druk uitgeoefen het dat ’n bepaalde argitek aangestel word.

Die leier van die IVP, Mangasuthu Buthelezi, het ’n effe ander benadering gevolg, naamlik om te vra vir meer agting vir die presidentsamp, al hou ’n mens nie van die bekleër nie. In Suid-Afrika is die ampte van seremoniële president en eerste minister as regeringshoof egter sedert die bewind van PW Botha versmelt. Dit plaas die president vierkant in die politieke domein, en dus kan die amp hoegenaamd nie as verskansing teen korrupsie dien nie – inteendeel, die ampseed en sosiale kontrak met die burgers weeg veel swaarder en moet silwerskoon bly. Die beginsel van “the king can do no wrong” is wel in Zimbabwe behou toe die twee ampte saamgesmelt is, maar die ongewenste gevolge van hierdie onbehoorlike verloop is duidelik te siene.

Die EFF het dié keer inderdaad raakgevat deur Zuma simbolies van sy presidentskap te stroop en te reduseer tot “Duduzane se pa”. Die EFF het ook nie geskroom om die onbehoorlike aard van Zuma se verhouding met Dudu Myeni uit te lig nie.

Enjoyed this post? Share it!