Nuuskommentaar: Uitjouery en gelag oor plaasmoorde

Argieffoto: Reint Dykema

Die nuus dat ’n Vryheidsfront Plus-raadslid deur die verteenwoordigers van ander partye uitgejou en uitgelag is toe sy vir ’n minuut van stilte gevra het vir’n egpaar wat tydens ’n plaasaanval in die distrik vermoor is, het moontlik nie veel nuusmedia gehaal nie. Dit verminder egter nie die belangrikheid van die insident nie, en sal vereis dat die betrokke partye hul posisies nie later nie as vandag duidelik en onomwonde aan kiesers stel.

Reg of verkeerd, daar is soveel plaasaanvalle en plaasmoorde dat die publiek afgestomp word van die nuus. Vir ’n tweede groep is die nuus en die grusaamheid waarmee dit gepaard gaan eenvoudig te veel om voor plek in die gemoed te kry, en word doelbewus “afgeskakel”.

Vir hierdie reaksies is daar begrip, al is dit skokkend dat dit so moet gaan. Maar as ’n egpaar vermoor word en ’n politieke party van die plaaslike munisipale raad stel ’n mosie voor vir ’n minuut van stilte, maar word deur die ander partye uitgejou en uitgelag; dan werp dit ’n dolk in die hart van ’n nasie wat nog nooit behoorlik tot ’n nasie kon versmelt nie – nie eens as reënboognasie nie.

Tog het die Vryheidsfront Plus se enigste verteenwoordiger in die raad van die Mogalkwena- plaaslike munisipaliteit (met Potgietersrus / Mokopane as hoofsetel) dié ervaring beleef. Sy het ’n mosie vir ’n minuut van stilte ter herdenking aan die vermoorde Piet en Tilla van Zyl voorgestel. Sy is deur niemand ondersteun nie – in teendeel, die EFF-verteenwoordigers het haar uitgejou, en die ander het haar uitgelag, of dan minstens nie gesteun nie.

Die raad bestaan uit 41 ANC-verteenwoordigers, 13 van die EFF, ses van die Demokratiese Alliansie, een van die VF Plus en een van Cope. Azapo en ’n inwonersvereniging het ook een setel elk.

Dit is moeilik om die presiese omstandighede binne die raad op daardie oomblik in te dink. Nogtans sou verwag word dat die DA-verteenwoordigers, en ook die verteenwoordiger van Cope, op nasionale vlak hieroor alarm sou maak. Dit is byvoorbeeld ondenkbaar dat die DA se woordvoerder oor landbou, Annette Steyn, nie sou reageer as sy maar net van die insident geweet het nie. Vanoggend is daar egter nog geen reaksie op die DA se webwerf nie – wel ’n rits verklarings oor ander relevante kwessies.

’n Skerp reaksie sal in alle waarskynlikheid vanoggend te wagte wees.

Of anders moet ’n rubriek van die redakteur van Beeld, Barnard Beukman, vanoggend met ontgogelde oë gelees word. Die opskrif, “SA verdien beter politici en partye”, vertel ’n verhaal op sy eie. Die verwysing na die opkoms van burgerlike bewegings wat hul kant bring, vertel nog ’n verhaal.

Geen party wil swakker as sy sterkste skakel wees nie, maar verskeie realiteite speel ’n rol. Ten eerste kies takke en streke nie altyd die beste mensemateriaal om hulle te verteenwoordig nie. Trouens, gevalle het al voorgekom waar iemand as kandidaat vir raadslid benoem is omdat hy werkloos is, terwyl die ander aspirante almal werk gehad het. ’n Politieke verskuiwing tydens ’n verkiesing kan dus vir talle huishoudings ’n ramp wees, soos met verlede jaar se munisipale verkiesing, en die bewilliging van ’n stywe bedrag aan elke raadslid wat sy setel kwyt is.

Kort-kort blyk dit ook dat kandidate erg gekierang het. ’n Voormalige provinsiale leier van die ACDP, en leraar, is uitgevang dat hy voor ’n provinsiale kongres ’n klomp mense wat nie ingeskrewe lede was nie, na die provinsiale kongres geneem het om vir hom te stem. Nadat hy uitgevang en uitgeskop is, het hy lid van die ANC se “Religious Desk” geword.

Soms word gunstelinge van die leier voorgestoot en kom boonop met moord weg. Dit wil al lyk of so iets nou die geval is waar die Nelson Mandela-metropool sy adjunk-burgemeester van die UDM die trekpas gegee het. Ten spyte daarvan dat talle ongerymdhede se bewyse bestaan en aan die UDM voorgelê is, is dit duidelik dat die leier, Bantu Holomisa, baie op die spel plaas om “sy” raadslid as adjunk-burgemeester te probeer behou.

Kortom, sonder meer inligting kan daar nie ’n oordeel gevel word oor die kwaliteite en motiewe van die DA-lede en Cope-lid se optrede, of gebrek aan optrede tydens die raadsvergadering waar die plaasmoord-mosie gestel is nie. Die twee partye sal egter baie vinnig, en nou ook taamlik omvattend, moet reageer om hul aansien te red.

En ja, uit links-liberale kringe sal wel “verduidelik” word dat die VF Plus-lid moedswillig was om aan die leeu se voorpoot te gaan torring. Maar wat sou die beskaafde optrede wees as ’n lid van enige munisipale raad, veral in die Wes-Kaap, ’n mosie sou indien dat ’n minuut van stilte gehandhaaf word vir die slagoffers van die geweld op die Kaapse Vlakte, veral die vroue en kinders? Dit is ondenkbaar dat iemand die mosiesteller sou skel of uitlag, en so ’n mosie sou in alle waarskynlikheid sonder teenstand aanvaar word.

En tog is die moordkoers onder boere en hul gesinslede pro rata effens hoër as die moordkoers onder bruin mans op die Kaapse Vlakte, wat in ’n stadium voorgehou is as die hoogste moordkoers onder ’n identifiseerbare groep ter wêreld. (Die syfers, wat min of meer uitkristalliseer is 130 per 1 000 per jaar vir die boeregemeenskap, en 97 per 100 000 vir die mans op die Kaapse Vlakte).

Ongelukkig is daar vrot appels, en so het die SAUK gisteraand op verskillende kanale in die nuus uitgesaai oor ’n boer by Wesselsbron wat werkers, ook kinders, in Noordwes gaan werf het en dan onder die haglikste omstandighede op sy plaas laat werk het. Hy is glo ook ’n arbeidsmakelaar.

Terwyl die oë vandag op die DA en Cope se reaksies gerig sal wees, word niks remediërend van die ANC en veral die EFF verwag nie. Geweldige druk is vanuit die ANC-geledere op die vorige adjunk-minister van hoër onderwys, Mduduzi Manana, uitgeoefen om te bedank ná ’n voorval in ’n kuierplek waar hy glo twee vroue aangerand het. Hy het egter skotvry daarvan afgekom toe hy tydens die parlementêre debat oor plaasaanvalle uitgeroep het dat die boere en hul gesinslede lewend begrawe moet word. Het die feit dat dr. Nkosazana Dlamini Zuma, luidens berigte, Manana se tante is, iets met die gebrek aan sanksie te make gehad?

Uit die Bosveld het ’n mosie danksy moderne kommunikasietegnologie ’n saak na die oopte gebring wat weens die sensitiwiteit van plaasaanvalle nou ’n waterskeiding vir politici bied. Die onregverdige is dat alle uitsprake en uitlatings in die verlede in die vergetelheid kan raak as die politici nie vandag reeds baie gepas reageer nie. Anders word die volgende vraag van Beukman uiters relevant: “Het enige politikus of party die laaste jare die verbeelding so aangegryp met nuwe rigtinggewende denke vir die eise van ons tyd dat iemand daaroor regop gesit het?”

Hieroor sal nie almal nie, veral nie die politici, saamstem nie.

Maar wat belangrik is – die opkoms van burgerlike instellings hou geen bedreiging vir politieke partye in nie, en manifesteer ook nie omdat die partye nie die mas opkom nie. Dit is ’n natuurlike en aanprysenswaardige produk van ’n grondwetlike demokrasie en speel ’n soortgelyke rol as ’n vrye media. Hulle sal wel groter en sterker word as die politici leemtes en lugleegtes laat, veral waar sektorale belange nie behoorlik “gediens” word nie.

Enjoyed this post? Share it!