Nuuskommentaar: Zuma se ‘derde termyn’, KPMG en die burgerlike samelewing

jacob-zuma-2

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Die jongste verwikkelinge om KPMG laat die vraag ontstaan: “Hoe wyd loop die staatskaping in die land?” Sake moet uitgepluis word te midde van nog ’n beweerde ramp wat kan plaasvind – pres. Jacob Zuma het glo gedreig om hom in Desember vir nog ’n termyn as ANC-president verkiesbaar te stel – ’n aanduiding van hoe diep die president se werklikheidsvreemde opvattings strek.

In dié stadium is dit nog net ’n gerug dat pres. Jacob Zuma hom tydens sy party se Desember-verkiesingskonferensie as ANC-president herkiesbaar kan stel. Tog, met Zuma weet ’n mens nooit. Tot dusver het Zuma se selfbeeld selfs onder die felste kritiek nie ’n duik weg nie, en hy het onlangs selfs verklaar dat hy meen hy doen sy werk goed, en dat niemand vir hom sê waar hy foute sou maak nie.

Nou (meen hy) kan hy glo die ANC weer verenig aangesien sy kandidaat-opvolgers klaarblyklik nie daartoe in staat is nie. Hoe Zuma by daardie sommetjie uitkom, weet nugter, want hy maak opsigtelik ook van die verdeel- en-heers-tegniek gebruik om drywend te bly.

Met die Bell Pottinger-saak wat nou effe uit die vernaamste nuusfokus verskuif, word die land getref deur ʼn nog groter skok. Die internasionale ouditeursfirma, KPMG, erken nie net brouwerk nie, maar doen iets daaraan deur ’n groot groep Suid-Afrikaanse topbestuurslui se bedankings te aanvaar. Die firma gaan sy fooie vir werk vir die Ontvanger, wat onder meer tot die “rogue unit” se heksejag met Pravin Gordhan as eerste prys opgelewer het, aan die Ontvanger terugbetaal.

Die sowat R40 miljoen wat uit Gupta-firmas verdien is, gaan aan welsynsorganisasies sonder winsbejag, en onderwysgerigte organisasies geskenk word. Tog gaan die stemme op – te min te laat en siviele eise gaan volg.

KPMG het baie lank as onkreukbare fort by die gewone publiek bly staan. Menige transaksie wat op die oog af verdag gelyk het, is goedgemaak deur te sê dit is deur KPMG geoudit. Tog, met die geval waar R30 miljoen belastingbetalersgeld wat vir die abortiewe Vrystaatse melkplaas by Vrede bestem was, maar met ’n ompad glo vir die spandabelrige Gupta-troue by Sun City betaal het, het die wenkbroue gelig.

Die senior KPMG-bestuurder wat aan die hoof van die betrokke oudit was, was immers self op die troue en na berig word, het hy die verrigtinge gate uit geniet. Toe die bom bars, was hy egter reeds weg by KPMG en op die punt om ’n nog meer senior pos op te neem. Hy het dadelik bedank.

Maar KPMG gaan nog meer bloei, hoewel dit waarskynlik is dat diegene wat skade kan bewys, soos in die geval van die “rogue unit” en wat gevolglik ontslaan is, skikkings buite die hof met klousules van geheimhouding aangebied sal word.

Presies hoe wyd loop die staatskaping? Só wil ’n mens vra ná die KPMG-onthullings en erkennings.

Ná die Bell Pottinger-debakel sou verwag word dat hierdie firma hom wyd van die Suid-Afrikaanse politieke arena sou hou. Die interessantheid is egter dat die SAUK (SABC) opnuut Zuma met sy besoek aan die VN as presidensieel probeer voorhou het. Die poging om die minister van internasionale betrekkinge se beeld te poets was egter danksy ’n power vertoning deur die minister ’n ramp vir haar en Suid-Afrika. Tog, die SAUK (SABC) se mededeling dat Zuma per SAL gereis het as deel van die bevordering van toerismemaand, lyk darem al te veel na die (amateuragtige) werk van ’n beeldpoetser. Is die nalatenskap van Bell Pottinger nog in ons regeringskringe aan die woel? Aan die ander kant, selfs die swakste beeldpoetsfirma sou met so ’n idee vorendag kon kom.

In die geheel staan baie Suid-Afrikaners verstom oor die groot verrotte voetspoor wat tydens Zuma se byna voltooide twee termyne oor die land getrap kon word. Was hy self argitek hiervan, of was aanloklike aas vir hom uitgehou?

Dat Zuma nou ’n benoudheid ervaar, sou vanselfsprekend wees nadat sy eie regspan aan die regters van die appèlhof toegegee het dat die terugtrek van die meer as 780 klagtes van onder meer bedrog irrasioneel is. Sou die hof in sy uitspraak (wat voorbehou is) volgens die aanduidings bevind, is dit nog nie vanselfsprekend dat Zuma sy dag in die hof sal kry nie. Dit mag wees dat die NVG steeds besluit om nie te vervolg nie, en ’n sertifikaat dienooreenkomstig uitreik. Dit open weer die weg vir private vervolging, en die kapasiteit daarvoor word nou om ’n ander rede by AfriForum geskep.

“Sa, vat hom, Bulhond!”

Die burgerlike organisasies in hierdie land het die afgelope paar jaar gewys hulle is nie katjies wat sonder handskoene aangedurf kan word nie, en so hoort dit in ’n grondwetlike demokrasie, met ’n vrye media wat ’n ewe belangrike rol te speel het.

Waarnemers het dit egter eens dat die kanse skraal is dat Zuma hom wel Desember herverkiesbaar sal stel, of dat hy toegelaat sal word om hom verkiesbaar te stel. Die wete dat daar ná nog ’n Zuma-termyn niks van die ANC oor sal wees nie, weeg al swaarder.

Maar weet of glo Zuma dit self?

Enjoyed this post? Share it!