Nuutste misdaad statistieke – Plaasmoorde styg onrusbarend

Volgens TLU SA se statistiek, steek 2017 sleg af in vergelyking met die situasie dieselfde tyd verlede jaar.

In 2016 is 295 aanvalle en 52 moorde geregistreer terwyl die ooreenstemmende periode vanjaar ‘n styging na onderskeidelik 347 en 65 aantoon.

“Die situasie op Suid-Afrikaanse plase en landbouhoewes neem ernstige krisisafmetings aan en dit is duidelik dat die SAPD se Landelike Veiligheidstrategie nie die verwagte resultate oplewer nie”, aldus mnr. Henry Geldenhuys, TLU SA se adjunkpresident en ook voorsitter van die unie se Veiligheidskomitee.

“Die vraag kan tereg gevra word of geweldsmisdade op plase en hoewes werklik in die praktyk prioriteitstatus geniet, of die nodige middele in landelike gebiede beskikbaar gestel word om die probleem te beveg en of misdaadintelligensie enigsins benut word om aanvalle teen wetsgehoorsame plaasbewoners te verhoed?” vra mnr. Geldenhuys.

VF Plus se leier in die Wes-Kaap, dr. Corné Mulder, het op sy beurt kommer uitgespreek oor die skielike vlaag plaasaanvalle in dié provinsie.

In die jongste voorval is ʼn boer van Klapmuts naby Stellenbosch, mnr. Joubert Conradie (47) op sy plaas Uitkyk doodgeskiet. Tien dae gelede is mnr. Mark Fagan (46) van Klein Dassenberg naby Philadelphia doodgeskiet.

Enkele weke gelede is ʼn boer van Ceres in die Koue Bokkeveld in sy plaaswinkel aangeval en verskeie kere met ʼn mes gesteek. Hy het die aanval oorleef.

Dr. Mulder sê die Kaap hou lank reeds asem op oor die moontlikheid van plaasaanvalle wat tot dusver feitlik ongekend was in dié provinsie.

“Dit is in hierdie stadium nog nie moontlik om te sê of die aanvalle die begin is van ʼn vlaag van hierdie soort misdaad in die Wes-Kaap is nie. Die drie aanvalle moet nogtans die gevaarligte skerp laat flikker.

“Die VF Plus wil plaaslike boere maan om met ʼn nuwe ingesteldheid veiligheid op hul plase te benader, om dit op te skerp en om voortdurend waaksaam te wees aangesien plaasaanvalle wel op enige plek in die land kan voorkom”, sê dr. Mulder.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!