Nuutste onthulling: Datumfout van lugverkeerstelsel dra by vir die vliegongeluk waar 8 Namibiese passasiers hulle lewens verloor naby Kaapstad in 2015

’n Datumfout op die lugverkeerstelsel van die land se naasgrootste lughawe – wat die jaartal as 2027 geregistreer het en nie 2015 nie – het bygedra tot ’n vliegongeluk waarin vyf mense dood is.

Die fout het veroorsaak dat die hele gerekenariseerde lugverkeerstelsel van die Kaapstadse Lughawe in duie gestort het. Dieselfde fout het dieselfde nag ook die land se grootste lughawe, O.R. Tambo, aan bande gelê, maar in Johannesburg is die fout reggestel voordat dit enige noodlottige gevolge kon hê.

Die fout het waarskynlik bygedra tot die ongeluk waarin ’n lugambulans onderweg van Namibië na Kaapstad in die vroeë oggendure van 16 Augustus 2015 in die Tygerberg-heuwels noord van die Kaapstadse Lughawe neergestort het.
In die voorlopige ondersoekverslag van die Burgerlugvaartowerheid is bevind dat dieselfde rekenaarfout om 02:47 op 16 Augustus 2015 by O.R. Tambo opgemerk is.

Tegnici van die lugverkeersnavigasiediens (ATNS) het dadelik begin werk om die fout te omseil, maar eers later besef dat die beheertoring in Kaapstad dieselfde probleem ondervind. Die Namibiese lugambulans van E-Med, met ’n kritieke pasiënt aan boord, het ongeveer 04:30 daardie dag neergestort.

Die Kaapstadse Lughawe se tegnici is eers om 05:35 laat weet hoe om die stelsel tydelik te herstel.
Intussen moes lugverkeerleiers in die Kaap vliegtuie laat land sonder enige beeld van naderende vliegtuie op hul skerms en slegs met radiokontak.

ATNS het aanvanklik ontken dat daar probleme met die beheerstelsel was. ATNS het eers drie ure ná die ongeluk ’n noodkennisgewing oor die radarprobleme uitgereik.

O.R. Tambo se stelsel was teen 06:50 herstel en dié in Kaapstad eers om 13:00.

Gawie le Roux (80), ’n pasiënt, Charmaine Koortzen (49), sy dogter, Alfred John Ward (23), ’n paramedikus, Steven Naudé (53), hoofvlieënier, en Amoré Espag (23), medevlieënier, is in die ongeluk dood.

Luidens die radiogesprek is die bemanning ’n driekwartier voor die ongeluk van die probleme by Kaapstad ingelig. Daar was ook verwarring oor die aanloopbaan wat die lugambulans moes gebruik.

In die ondersoek is ook bevind dat die optrede van die vlieëniers bygedra het tot die ongeluk omdat hul roete tydens eindnadering na die aanloopbaan afgewyk het van die neergelegde vlughandleiding.

Die gevolg was dat hulle in mistige weer in die Tygerberg-heuwels vasgevlieg het.
Die verslag wys ook vingers na die operateurs van die lugambulans, Westair, en ’n gebrek aan behoorlike toesig deur die Namibiese lugvaartowerheid.

Wolf Grellman, uitvoerende hoof van Westair, het gesê hy wil eers die verslag met Namibiese owerhede bespreek voordat hy reageer.

Ericsson Nengola van die Nami­biese lugvaartowerheid het gesê hy het nog nie die verslag bestudeer nie.


Enjoyed this post? Share it!