Nuutverkose VF+ leier, Dr. Groenewald wys meer murg, maar soos sy voorganger, meer lojaliteit aan Parlement

Die Nuutverkose VF+ leier, Dr. Groenewald het bietjie meer murg gewys met ‘n onlangse pers verklaring gerig aan Malema, maar ook, soos sy voorganger, meer lojaliteit aan Parlement as aan sy eie volk.
 
“Moenie die Afrikaner se vriendelikheid en ordentlikheid as ʼn gebaar van swakheid vertolk nie”
 
Julius Malema se onlangse uitsprake oor wit mense is rassistiese haatspraak, en hy moet nie die vriendelikheid van die Afrikaner verkeerdelik as swakheid vertolk nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
 
Dr. Groenewald het vandag in ʼn parlementêre mosie gesê dit is uiters onverantwoordelik van ʼn parlementslid, die leier van die EFF Julius Malema, om opruiende uitlatings teenoor wit mense te maak.
 
“Wat hy gesê het, is rassisties, en is totaal onaanvaarbaar. Ek wil aan hom sê hy moet nie die ordentlikheid en die vriendelikheid van die Afrikaner verkeerdelik vertolk as swakheid nie. Hy sê die poppe sal dans as hy die president word. Hy moet hoop die poppe begin nie wel eendag dans nie.
 
“Hy onderskat duidelik die Afrikaner. Dit is totaal onaanvaarbaar vir ʼn parlementslid om hierdie haatspraak buite die parlement te verkondig. Dit jaag emosies op en skep die potensiaal vir konflik.
 
“ʼn Onlangse peiling het aangetoon dat sowat 73% van alle Suid-Afrikaners ongelukkig is met die politieke situasie in die land. Dit is verstaanbaar in ag genome die optrede van die land se president en ministers.
 
“Ongelukkig het dit ook mode geword om die Afrikaner en die wit mense van die land uit te sonder as die sondebokke vir al die land se probleme. Dit moet stopgesit word,” sê dr. Groenewald.
 
ʼn ANC-minister het op dr. Groenewald se mosie gereageer deur te erken dat opruiende uitsprake verkeerd is en het ʼn beroep op alles Suid-Afrikaners gedoen om hulle daarvan te weerhou.
 
Dr. Pieter Groenewald, voormalige voorsitter van die VF Plus, is laas week aangewys as nuwe leier van die VF Plus wat die party met ʼn sterk leierskapspan na die volgende algemene verkiesing in 2019 en daarna moet lei. Adv. Anton Alberts is in sy plek as voorsitter van die party aangewys.
 
Dr. Groenewald sê dit was ʼn voorreg om oor dekades as parlementslid saam met dr. Mulder te dien en dat dit hom goed voorberei het om die VF Plus die toekoms in te neem.
 
“Daar is min mens in Suid-Afrika met die diepgaande kennis oor die politieke situasie in Suid-Afrika soos dr. Mulder. Hy gaan vir eers nog aanbly as parlementslid en ons sal voortgaan om sy insig en raad tot voordeel van die party aan te wend.
vfmulder

Enjoyed this post? Share it!