Nuwe wysigingswetsontwerp op die Skolewet kan basiese onderwys vernietig in SA

Die wysigingswetsontwerp op die Skolewet kan vernietigend wees vir basiese onderwys en skole in Suid-Afrika en die VF Plus sal dit op elke manier moontlik in die parlement beveg om toe te sien dat die wysigings ten minste onwerkbaar is, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Die wysigingswetsontwerp is vroeër vandeesmaand in die Staatskoerant gepubliseer en gee die staat groot mag oor skole.

Adv. Alberts sê die VF Plus vind dit skokkend maar nie verbasend nie dat die ANC-regering weereens met ʼn simplistiese beleid kom waar alles in die samelewing beheer moet word, in hierdie geval skole en die jeug se toekoms.

“Hierdie beleid is in lyn met die ANC se algemene beleid van ʼn ontwikkelingstaat wat alle fasette van die lewe reguleer soos wat tans in China plaasvind.

“In China is daar egter ʼn baie hoë werketiek en daarom sien sy ekonomie die dividende daarvan. Die teendeel daarvan is waar van Suid-Afrika.

“Dit is ʼn onbetwiste feit dat die ANC haas alles vernietig waaroor hy beheer uitoefen. Voorbeelde is die onderskeie staatsondernemings wat oor die afgrond bestuur is en hospitale wat in duie stort. Net so sal groter mag oor skole ook onvermydelik tot rampspoed lei.

“Hierdie wysigings sal ook veroorsaak dat skoolbates deur die regering onteien kan word wat in stryd sou wees met artikel 25 van die Grondwet (die eiendomsklousule). Indien die regering die bates sou hou as ʼn voog, sal hy inderdaad alle private skoolbates kan onteien, net soos wat gebeur het met mineraleregte.

“Gegewe hoe hierdie waarskynlike strooptog van die ANC ons kinders se toekoms raak, sal almal in 2019 moet saamstaan om hom te onttroon by wyse van ʼn koalisieregering. Dit raak laat in die dag met die ANC aan stuur van die land se sake,” sê adv. Alberts.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!