Oeste van boere in Tzaneen distrik word onder hulle uit gesteel

Goed georganiseerde diewe met bakkies en vragmotors is besig om boere in die distrik Tzaneen oeste onder hulle uit te steel.

Mnr. Pieter Henning, ‘n boer van George’s Valley, sê daar is al die afgelope maand tussen vier en vyf bakkievragte avokado’s uit sy boorde gesteel. Vroeër is een hele boord kaalgepluk. Hy skat dit is omtrent vyf ton vrugte wat gesteel is en dit is net waarvan hy bewus is.

Aangekeer
Henning het vroeg Sondagoggend ‘n groep avokadodiewe in sy boord aangekeer. Die bakkie was byna oorlaai met 80kg meelsakke vol avokado’s. “As so ‘n sak avokado’s ook 80kg weeg, was daar omtrent R29 000 se avo’s op daardie bakkie. Maar ek vermoed so ‘n sak avo’s weeg meer as 80kg,” sê Henning.
Henning sê hoewel boere in die verlede al gevoel het dat die polisie en howe nie streng genoeg teen vrugtediewe optree nie, lyk dit of daar hierdie keer deeglike ondersoek gedoen word. Die polisie het die voertuig waarmee die avokado’s vervoer is gekonfiskeer en die vermeende diewe sal eersdaags in die hof verskyn.

Ander loop ook deur
Dit is nie net avokado’s wat in dié omgewing gesteel word nie. Bosbouers het onlangs ‘n forum op die been gebring om diefstal uit plantasies aan te spreek. Diewe kom saans met vragmotors in die plantasies in en kap dan groot hoeveelhede jong bome af.

“Ons forum het begin deur die polisie en howe bewus te maak van die probleem.
Ons werk nou saam met die polisie en skakel met staatsaanklaers om die waarde van die produkte wat gesteel word en die omvang van die skade by hulle tuis te bring,” sê Henning. “Ons oorweeg om die forum ook na ander landbou-kommoditeite uit te brei.”

Groot skaal
Hy sê dit is belangrik dat wetstoepassers besef dat boere nie kla oor mense wat enkele vrugte vaslê sodat hulle iets het om te eet nie. Die diefstal vind op groot en georganiseerde skaal plaas.

“Hierdie mense steel ons wins en vir party boere is dit nou nie meer die moeite werd om aan te hou boer nie, want die persentasie wat oorbly in die boorde is te min.”

Dr. Theo de Jager, wat ook in die Tzaneen-omgewing boer, sê diefstal kos boere miljoene rande en honderde werksgeleenthede gaan in die proses verlore.

Henning het ‘n beroep op sy medeboere gedoen om moed te hou en saam te werk vir ‘n oplossing. “Ons kan nie toelaat dat mense ons uit ons bedrywe uit steel nie.”

Deur: Landbou.com


Enjoyed this post? Share it!