Ogod het nog 14 skole in sy visier oor hul godsdienspraktyke

Nog 14 openbare skole ontvang Maandag aanmanings van die Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie (Ogod) omdat die skoolhoofde hulle glo aan ongrondwetlike godsdienspraktyke skuldig maak.

Een van dié hoofde is Schalk Malherbe van die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein.

’n Facebookfoto van Malherbe is in die aanmaningsbrief ingesluit.
Op die foto het hy sy skool se baadjie aan en hou hy ’n houtbord vas waarop staan: “Ek en my skool, ons sal die Here dien.”

SKOOLHOOF

Daar verskyn ook ’n verwysing na Josua 24:25. Verder word die skool deur Ogod op die vingers geraps oor die internetbemarking van hul “Hart”-projek, die gebruik van nóg Bybelverse, die gebruik van die frase “Soli Deo Gloria” en die onbehoorlike bevordering van gebed.

Die Hoërskool Jim Fouché is reeds besig met ’n beplanning vir ’n nuwe strategie oor godsdiens­onderrig op advies van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Malherbe het aan Rapport gesê: “Die Hemelse Vader wat ek aanbid, is iemand wat kom klop en nié ’n deur gaan afskop nie. Hy is ’n gentleman.

“Daarom sal ons skool ook nooit ongrondwetlik optree nie. Ons is ’n openbare skool en ons sal binne die wet bly. Ons deure is oop vir enigiemand en ons sal nooit rebels wees daaroor nie. Ons is bereid om saam te werk.”
Ná soortgelyke briewe van Ogod aan ses skole het die hooggeregshof in Johannesburg op 28 Junie beslis dat een geloof nie in ’n openbare skool bo ’n ander bevorder mag word nie.

Dit is nog onbekend of dié ses skole teen 5 Augustus teen die uitspraak gaan appelleer.

Intussen is die nuwe teikens in Ogod se visier net so op hul hoede soos Malherbe.

Volgens Pietman de Villiers, voorsitter van die Hoërskool Rustenburg se beheerliggaam, het hulle al met die vorige uitspraak gevaarligte sien flikker en ook hulle is nou onder Fedsas se vlerk.

“Ons het Christelike waardes, maar ons gee ruimte aan almal,” sê Johan Roothman van die Laerskool AG Visser in Heidelberg. “Ons is baie gemaklik met wat in ons skool aangaan, want ons dwing niemand in enige rigting nie.
“Daar was voorheen al kinders van ander gelowe in ons skool, maar vanjaar is daar toevallig slegs Christene.”

Hennie van der Mescht, hoof van die Laerskool Bloemfontein, doen ook “ernstige hersiening”.

“Ons wil graag ons beleid aanpas,” sê hy.

“Ons het nog nooit ’n klagte ontvang nie, maar ons sal maar net in die toekoms beter moet kyk. ’n Waardestelsel is deesdae belangriker as ’n godsdiensstelsel.”

Die Ogod-klagtes teen George Germishuys van die Hoërskool Durbanville sluit in die aanlyn gebruik van terme soos “Christelike waardestelsel” en “Christelike waardes”, asook die aanmoediging om dienste van die Durban­ville moedergemeente by te woon.

“Sodra ouers hul kinders by ons skool inskryf, vra ons eers of hulle gemaklik is om aan godsdiens blootgestel te word by die skool,” sê Germishuys. “Tot dusver was daar nog geen klagtes daar-oor nie.”

As dié 14 skole binne 21 dae geen “korreksies” aan hul beleid maak nie, sal hulle waarskynlik dieselfde paadjie loop as die vorige ses.
Hans Pietersen, voorsitter van Ogod, hou bogenoemde skole dop omdat “die verspreiding van daardie houding gevaarlik is”.

“Verskeie ouers het my reeds ­genader om skole so gou moontlik op rekord te plaas,” sê Pietersen.

“Een van die aansprake is dat Ogod slegs Christenskole aanvat.

“Dis nie waar nie. Die uitspraak was teen, en is van toepassing op, enige skool wat enige geloof ­bo ’n ander bevorder.”

Pietersen sê dat die Skolewet, wat in die Grondwet vervat word, nog altyd duidelik daaroor was dat een godsdiens nie voorgetrek mag word nie.

Die skole wat in die visier was:

1. Die Laerskool Randhart in Alberton
2. Die Laerskool Baanbreker in Boksburg
3. Die Laerskool Garsfontein in Pretoria
4. Die Hoërskool Linden in Johannesburg
5. Die Hoërskool Oudtshoorn
6. Die Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn
Dié skole is nou in Ogod se visier:
1. Die Laerskool Bloemfontein
2. Die Laerskool Constantiapark in Pretoria
3. Die Laerskool Wonderboom in Pretoria
4. Die Laerskool Hugo Rust in Wellington
5. Die Laerskool Generaal Hendrik Schoeman in Hartbeespoort
6. Die Laerskool Louis Trichardt
7. Die Laerskool AG Visser in Heidelberg
8. Die Laerskool Stellenbosch
9. Die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein
10. Die Hoërskool Pionier in Vryheid
11. Die Hoërskool Rustenburg
12. Die Afrikaanse Hoërskool in Kroonstad
13. Die Brebner High School in Bloemfontein
14. Die Hoërskool Durbanville in Kaapstad

Deur Jaco Nel/Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!