Omstrede Mugabe jr. glo stil-stil terug by SA universiteit

Rob Mugabe (jr.), seun van die Zimbabwiese president midde-in die diplomatieke storm oor sy ma, Grace, is terug in die land en het sy studie aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) hervat.

Die 25-jarige Rob volg reeds sedert die begin van die jaar ’n graadkursus in argitektuur aan die UJ, al het hy na bewering nooit sy skoolopleiding voltooi nie. Volgens mense wat hom dié week op die kampus gesien het, handhaaf die jonge Mugabe ’n lae profiel, wat nie moeilik is nie, omdat die meeste van sy medestudente nie eens weet wie hy is nie.

Die Zimbabwiese media het vroeër berig dat Rob en sy jonger broer, Bellarmine Chatunga (21), verlede Sondagoggend saam met hul ouers in Harare aangekom het. Die vermoede is egter dat hulle sedertdien in een van hul ma se huise in die voorstad Sandhurst in Johannesburg skuil. Die Daily News het senior regeringsbronne aangehaal wat sê die twee seuns is weens hul gedrag “permanent” terug in Zimbabwe. Dit lyk asof dié opmerking deel is van ’n rookskerm oor die twee se doen en late, want Rob was binne ’n dag terug in Johannesburg.

‘SPEELPLEK VIR POLITIEKE ELITE EN HUL MISDADIGE VRIENDE.’
Albei seuns was teenwoordig toe hul ma, Grace, twee weke gelede glo die model Gabriella Engels (20), wat by haar seuns gekuier het, in ’n hotelkamer in Sandton aangerand het. Die Suid-Afrikaanse regering het op omstrede wyse diplomatieke immuniteit aan Grace Mugabe verleen en haar sodoende gevrywaar van enige strafregtelike vervolging vir die beweerde aanranding. Volgens Rapport se inligting het pres. Robert Mugabe, sy vrou en sy seuns verlede Sondagoggend omstreeks 01:20 vanaf die Waterkloof-lugmagbasis in Centurion na Harare gevlieg.

Vlug UM459 van Air Zimbabwe het sonder die gewone presiden­siële roepsein – soos deur protokol bepaal – as ’n gewone kommersiële vlug gevlieg.

Volgens Rapport se bronne is daar geen besonderhede op die aankoms- en vertrekdatabasis van die departement van binnelandse sake van enigeen van die Mugabes se vertrek uit die land nie. David Hlabane, woordvoerder vir binnelandse sake, sê egter dié departement se kantoor op die lugmagbasis was beman en paspoorte is geskandeer. Toe pres. Omar al-Basjir van Soedan ondanks ’n lasbrief van die Internasionale Strafhof in Junie 2015 óók toegelaat is om die land vanaf Waterkloof te verlaat, is sy paspoort nie geskandeer nie. Sy naam was nie eens op die passasierslys aangedui nie.

Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, moet op 30 Augustus voor die portefeuljekomitee oor internasionale betrekkinge haar besluit om immuniteit aan Grace Mugabe toe te staan verduidelik. Die minister het dit op versoek van Zimbabwe toegestaan in ’n kennisgewing in die Staatskoerant wat Sondag gepubliseer is.

Die DA het dié week ’n mosie ingedien dat dié portefeuljekomitee die voortou moet neem met ’n omvattende ondersoek na die voorval. Dit kom nadat Fikile Mbalula, minister van polisie, vroeër gesê het ’n “rooi waarskuwing” is aan alle grensposte uitgestuur, sou die presidentsvrou uit die land probeer ontsnap.

Volgens die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, moet Mbalula ook aan die komitee verduidelik waarom sy nie soos enige ander misdadiger onmiddellik ná ’n misdryf in hegtenis geneem is nie. “Die regering het nie meer enige geloofwaardigheid wat betref internasionale diplomasie nie en toon ’n algehele miskenning vir die reg. Suid-Afrika het die speelplek vir die politieke elite en hul misdadige vriende geword om die wet te oortree soos hulle wil,” sê Steenhuisen.

Die DA het hofstukke by die konstitusionele hof ingedien om die diplomatieke immuniteit van Grace Mugabe tersyde te stel.

Die burgerregteorganisasie AfriForum, wat Engels verteenwoordig, het Woensdag sy hofstukke by die Pretoriase hooggeregshof teen Nkoana-Mashabane en Grace Mugabe ingedien. Hulle vra dat Nkoana-Mashabane se besluit tersyde gestel word sodat die presidentsvrou aangekla kan word.

Die hof sal eers op 19 Oktober die saak aanhoor, omdat die hofstukke op Grace Mugabe persoonlik in Zimbabwe bestel sal moet word. Die Zimbabwiese hoëkommissariaat in Pretoria verseg om dokumentasie hieroor te hanteer.

Deur: Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!