Omstrede spioen kan van R1,5 miljard geen rekenskap gee – gee verskoning dat werk hoogs geheim is

’n Omstrede spioen wat ’n beweerde rampokkereenheid by die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) bestuur het wat senior amptenare by Jan Taks moes diskrediteer, het amptelik sy pos as Suid-Afrika se ambassadeur in Japan opgeneem.

Hy kan egter nie rekenskap gee van R1,5 miljard nie en skuil agter verskonings dat hul werk hoogs geheim is, berig Leanne George en Pieter-Louis Myburgh.

Thulani Dhlomo (46), wat noue bande met pres. Jacob Zuma het, het op 31 Augustus in tradisionele Zoeloe-kleredrag by die Suid-Afrikaanse ambassade in Tokio ingestap. Hy het by sy inhuldigingsplegtigheid gesê hy wil “handelsbande versterk en armoede, ongelykheid en werkloosheid tuis beveg”.

Silence Dlomo (sy geboortenaam) is Japan toe ondanks sy betrokkenheid by ’n omstrede SVA-eenheid wat na bewering amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gediskrediteer het. Dieselfde veldtog is ook gebruik om Pravin Gordhan, die voormalige minister van finansies, te diskrediteer en strafregtelik te vervolg – hoewel sy vervolging nooit gerealiseer het nie.

Rapport se susterkoerant, City Press, het die bestaan van die eenheid en die betrokkenheid van Dhlomo in 2014 onthul. Die ouditfirma KPMG is uiteindelik deur Tom Moyane, SAID-hoof, gekontrakteeer om die bewerings te ondersoek.

KPMG moes egter die bevindings, aanbevelings en regsmenings van sy verslag terugtrek en erken dit was verkeerd om te insinueer dat Gordhan kennis gedra het van ’n geheime eenheid by die SAID.

Dhlomo se persoonlike assistent in Japan, Gift Masina, het nie op navrae gereageer nie, soos ook Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, en die Japanse ambassade in Pretoria.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!