ONDER DIE SKULDJUK UIT DIE TOEKOMS IN

Aan Die Redakteur, Beeld
e-pos: briewe@beeld.com

Geagte Mnr.

ONDER DIE SKULDJUK UIT DIE TOEKOMS IN

Ek maak graag van u uitnodiging aan jongmense gebruik, (ook die wat nog jonk van gees is), soos gestel in voorvermelde artikel van 12 Junie om met u in gesprek te tree. Ek doen dit omdat ek aan my volk se jongmense ‘n ander kant van die saak wil stel wat hulle nie uit die pen van die Redakteur van Beeld sal kry nie. Dit om balans in die lewe te hou.

1. Kom ons begin by die foto in die artikel. Uiteraard is daar van metodes gebruik gemaak om mense te laat praat. Ek hou nie daarvan nie maar oorlog is oorlog. Ons veiligheidsmagte, uitgesluit soldate op die grens in die oorlogsituasie, het dan ook na raming sowat 200 mense “vermoor”. Daarteenoor het die ANC/PAC na raming 20 000 mense vermoor – die meeste daarvan swartes – met bomme in restaurante, die halsnoer metode, (toon ‘n slag ook die foto’s hiervan), en soortgelyke optredes. Dit net om perspektief te bring.

2. Die skuldjuk storie is holrug gery en daarvan kan gerus afgestap word. Byvoorbeeld, ons moes elektriese heinings op ons grense aanbring om mense wat hierheen wou stroom uit die land te hou, terwyl die ANC/PAC se geesgenote in Kuba en Rusland mure en ander metodes gebruik het om hulle mense binne te hou. Verklaar dit net vir u lesers!

3. Dan wil ek verwys na die onderwys. Vroeg in die vyftigerjare was daar slegs sowat 5 000 swart kinders op skool. Dr Verwoerd het as Minister van Bantoe Sake ‘n beleid in plek gestel wat bepaal het dat alle swart kinders skool toe moes gaan en daar moes bly totdat hulle minstens, let wel nie net, std 2, tans graad 4, geslaag het. (Terloops, daar was groot teenstand hieroor onder baie swart ouers.) Hy het ook verklaar dat soveel as moontlik van hulle verder opgelei moes word sodat hulle hul eie mense tot diens kan wees. Daar is dan ook 10 000 klaskamers per jaar gemiddeld in die daaropvolgende tien jaar gebou en na tien jaar was daar ongeveer 500 000 swart kinders op skoolbanke. Daar was die beskuldigings dat dit minderwaardige onderwys was. Die storie is die nek ingeslaan toe Senator Faber, lid van die ou VP en ‘n oud skoolinspekteur, in die Senaat verklaar het dat daar niks minderwaardigs omtrent die swart kinders se leerplanne was nie. Ook loop die storie dat daar slegs ‘n fraksie op swart kinders teenoor wit kinders spandeer is. Die feit is egter dat alle uitgawes by wit kinders in een department gesentreer was terwyl by swart kinders lopende besteding deur Swart Onderwys maar kapitaalbesteding deur Openbare Werke gedoen is. Verder was daar persentaise gewys heelwat meer blanke kinders op sekondêre vlak waar kostes heelwat hoёr is. Al hierdie faktore, plus nog ‘n paar ander, word gewoonlik nie in berekening gebring nie. Indien wel, was die gaping gering. Dan is daar tydens die rewolusionêre periode 200 swart skole totaal vernietig – gewoonlik afgebrand. Immers, die slagspreuk was “liberation before education.”

4. Dr Verwoed was die enigste persoon wat in drie jaar se tyd een miljoen huise vir swart mense laat bou het. Dit was toe die land se BBP veel kleiner as tans is. Die kwaliteit daarvan was veel beter as die huidige HOP huise.

5. Kom ons kyk wat het die IMF te sê gehad oor die oordrag van welvaart wat plaasgevind het. Ek verwys na Occasional Paper 91 van Januarie 1992 getiteld “Economic Policies for a New South Africa.” Wat was die IMF se bevindinge oor belasting? “…the tax share of the white sector of South Africa is very high by the standards of other middle-income countries and at least comparable to that prevailing, on average, in the industrial countries. This comparison becomes all the more striking if one looks at a ‘net tax burden’ concept, which nets out from the tax burden the various social benefits provided by the budget to the groups being compared.” Dan word daarop gewys dat die netto belastinglas in 1988, d w s onder die vorige bewind, in die RSA gemiddeld sowat 10,6% was vergeleke met 7,8% in Frankryk, 7,7% in Duitsland en 9,1% gemiddeld in die wêreld. In die RSA self was die netto belastinglas op blankes in 1988 23,3% en negatief vir swart en bruin mense en slegs 1,8% vir Indiёrs. Dus ‘n groot oordrag van welvaart via die belastingstelsel. Verder is daarop gewys dat: “…. in 1990, South Africa’s corporate income tax was the highest in the industrial countries.”

6. Dan wil ek nie eers praat van die kwaliteit van die infrastruktuur wat die huidige regering geёrf het nie. Hoe lyk dit nou?

7. Nog ‘n punt van belang. Swiss Bank Corporation maak in ‘n dokument oor hoe hulle lande se kredietwaardigheid beoordeel, die volgende opmerking wat ek vryelik vertaal: Ons belê nie graag in lande waar mense van verskillende volke, tale, kulture en gelowe in een land saamwoon nie want ons ervaring is dat so ‘n land onstabiel is.

Hierdie is slegs enkele sake wat ek wil aanroer om die sogenaamde “skulgevoel” wat ons moet hê in perspektief te stel. Maar waar staan ons tans? Ons is vasgevang in ‘n beleid van sosialisme met ‘n veel groter oordrag van welvaart as wat die Ministers van Finansies oor die jare te kenne wil gee. Byvoorbeeld, daar is reeds R600 miljard, volgens mnr Gordan, op swart ekonomiese bemagtiging spandeer. Nie ‘n sent daarvan het deur die staatsfinansies gevloei soos wat die politieke ekonomie dit as vereiste stel nie. Mnr Manual het in tien jaar se tyd R52 miljard se belasting uit die pensioenfondsbedryf onttrek – dus uit besparing – wat uiteraard ekonomiese “sonde” is. Vir baie jare is Eskom nie toegelaat om uitbreidings te doen nie. Dit laat my dink aan wat ‘n swart bankier vanaf Ghana kort na 1994 aan my gesê het nadat hulle 40 jaar onder sosialisme verarm het. “Sir, you must talk to your government. They must not make the same mistakes that we have done”. My antwoord; gaan sê julle dit vir hulle want hulle gaan nie na my luister nie. (Miskien wel na 40 jaar.)

Ter afsluiting na dié paar brokkies inligting. Onthou wittes was ten beste maar 15% van die bevolking. Hoe op aarde kan 15% die ander 85% in ‘n kort tydjie opgehef kry – veral ook nog as hulle nie wou saamwerk nie. Verder, sou mnr Mandela ook gevra het vir een mens een stem as die wittes in die meerderheid was? Ek twyfel, dan sou hy hom waarskynlik beywer het vir ‘n afsonderlike gebied vir sy mense.

Die uwe,

A J Jacobs

Enjoyed this post? Share it!