Ondersoek bekend gemaak oor onregmatige pensioentoekenning aan Brian Molefe

Die vakbond Solidariteit het vandag by ʼn mediakonferensie in Centurion, Pretoria bekendgemaak dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in sy opponerende hofstukke aangedui het dat die Kantoor vir Ernstige Ekonomiese Misdrywe van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdade die partye gaan ondersoek wat betrokke was by die onregmatige pensioentoekenning aan Brian Molefe, die voormalige uitvoerende hoof van Eskom.

Dit volg nadat Solidariteit in sy aanvanklike hofstukke die hof genader het om die NVG te beveel om ʼn strafregtelike ondersoek rakende die saak te doen.

Solidariteit het vandag gesê hy glo daar bestaan voldoende gronde om Molefe strafregtelik te vervolg op grond van die wanvoorstellings wat Molefe en die Eskom-raad gemaak het met betrekking tot die omstrede pensioentoekenning van sowat R30 miljoen en die uitbetaling van meer as R10 miljoen wat aan Molefe bewillig is. Die vakbond het ook bekendgemaak dat hy op 29 November met ʼn afsonderlike regsproses sal begin om Molefe te dwing om dié geld terug te betaal.

“Die besluit van die NVG om ʼn ondersoek te loods, dien as bevestiging van Solidariteit se siening dat daar ʼn sterk saak is. Ons wil ʼn ernstige beroep op die NVG doen om die ondersoek te versnel en om, as die ondersoek bevind dat vervolging ingestel moet word, dit so gou as moontlik gedoen word,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Volgens Hermann was hierdie uitbetaling nie ʼn foutjie soos wat Molefe vandeesweek probeer voorgee het die geval was nie. Dit was gewoon korrupsie en staatsplundering. “Onregmatige optredes moet gevolge inhou. ʼn Verskoning en selfs terugbetaling is nie voldoende nie. Solidariteit is van mening dat daar ʼn prima facie- strafregtelike saak is teen die persone wat die twyfelagtige besluite geneem het om die pensioenuitbetaling aan Molefe toe te staan.

“Voorts is ons van mening dat daar verskeie onwettige wanvoorstellings was wat vervolging regverdig, wat ondermeer Molefe en die Raad van Eskom se valse bewerings dat hy aan die pensioenreëls voldoen en ʼn permanente werknemer is, insluit. Hulle het geweet dit is vals, maar die onregmatige handelinge is voortgesit,” het Hermann gesê.

Volgens Hermann pak Solidariteit hierdie saak namens alle Eskom-werknemers asook die belastingbetalende publiek. “Gewone belastingbetalers is moeg daarvoor dat staatbates met hulle geld geplunder word. Indien hierdie soort onregmatige plundering voortgaan, sonder vervolging, sal Suid-Afrikaners begin om vertroue te verloor in die regstelsel as kernpilaar van ons demokrasie,” het Hermann gesê.

Hermann het voorts gesê dat dit skreiend is dat Solidariteit in die eerste plek die hof moet nader sodat Molefe die onregmatige fondse moet terugbetaal. Die vakbond sal dus versoek dat Molefe en die Eskom-raadslede in hul persoonlike hoedanigheid vir die geding aanspreeklik gehou moet word sodat belastingbetalers nie verder vir korrupte amptenare hoef te boet nie.

Die saak rakende die terugbetaling van die fondse word vanaf 29 November tot 1 Desember in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor.

Foto: Brian Molefe


Enjoyed this post? Share it!