Ondersoek kom ná speurhoof seksvideo op WhatsApp stuur – nog ‘n Margaret sage!

“Vee dit onmiddellik uit.”

Dit was die versoek van ’n Wes-Kaapse polisiegeneraal aan polisiebeamptes nadat hy ’n pornografiese videogreep op ’n polisie-WhatsApp-groep gestuur het.

Die videogreep beeld ’n seksdaad tussen ’n onbekende man en ’n onbekende vrou uit.

Dit is op of ná 13 Julie deur genl.maj. Patrick Mbotho, Wes-Kaapse speurhoof, aan verskeie polisiebeamptes gestuur.

By die videogreep was die volgende boodskap: “Dis wat ek wil hê jy aan my penis moet doen.”

Fikile Mbalula, minister van polisie, het Maandag gesê die voorval gaan ondersoek word en dat daar reeds opgetree is.

Dit volg op briewe wat ’n ANC-aktivis, Colin Arendse, aan Mbalula, die nasionale polisiebestuur en die Wes-Kaapse polisiebestuur geskryf
het.

In die eerste brief van 16 Julie het Arendse die polisiebestuur en Mbalula ingelig oor die pornografiese videogreep.

Arendse vra onder meer dat Mbotho se optrede ondersoek word.

GENL. MBOTHO, DIT GRIEF MY DAT JY TERWYL MENSE IN DIE WES-KAAP MOES KOES VIR KOEËLS EN WONDER WANNEER DIE POLISIE ’N AANTAL UITSTAANDE DOSSIERE GAAN FINALISEER DIE TYD HET OM JOU BESIG TE HOU MET SULKE ONWETTIGE EN IMMORELE AKTIWITEITE.

Hy skryf dat baie van die speurtakbevelvoerders op die groep geskok was, veral oor die eksplisiete aard van die videogreep.

In sy brief aan Mbotho skryf Arendse: “Genl. Mbotho, dit grief my dat jy terwyl mense in die Wes-Kaap moes koes vir koeëls en wonder wanneer die polisie ’n aantal uitstaande dossiere gaan finaliseer die tyd het om jou besig te hou met sulke onwettige en immorele aktiwiteite.”

Hy skryf dié optrede is onbetaamlik en vra dat Mbotho afstand doen van sy pos aangesien dit duidelik is dat hy nie geskik is vir die pos nie.

Die Wes-Kaapse polisiebestuur het by monde van lt.kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, gesê hulle is bewus van die bewerings en dat dit ondersoek word.

In nog ’n brief skryf Arendse dit het onder sy aandag gekom dat Mbotho glo ook weens seksuele teistering ondersoek word. Dié brief is Maandag geskryf.

Nóg Mbalula nóg die Wes-Kaapse polisiebestuur het op navrae oor die bewerings van seksuele teistering ge­reageer.

Mbotho het gesê hy mag nie met die media daaroor praat nie.

Polisiebeamptes wat op die WhatsApp-groep is, het Maandag gesê Mbotho het die WhatsApp-groep verlaat kort nadat hy die boodskap gestuur het.

Van die beamptes, wat gevra het om anoniem te bly, sê nie net speurhoofde in polisiekantore is lede van die groep nie.

SO, AS HULLE SÊ HULLE HET NIE MBOTHO SE S****T GESIEN NIE, PRAAT HULLE NONSENS.

Volgens die polisiebeamptes is al die generaals in die Wes-Kaap lede van die groep. Dit sluit speurhoofde, bevelvoerders van spesialiseenhede en die Wes-Kaapse provinsiale polisiehoof, lt.genl. Khombinkosi Jula, in.

“So, as hulle sê hulle het nie Mbotho se s****t gesien nie, praat hulle nonsens,” het ’n polisieman gesê.

Nog ’n senior polisiebeampte het gesê Mbotho se gedrag is immoreel.

Polisiebeamptes het ook gesê hulle verwag nie dat daar enigsins iets van ’n ondersoek na Mbotho sal kom nie.

“Hy is in Khombinkosi Jula se binnekring. Jula sal nie teen een van sy mense optree nie,” het ’n polisiebeampte gesê.

Mbotho het Maandag gesê toe hy agtergekom het hy het ’n fout begaan, het hy dadelik om verskoning gevra.

Volgens hom word die voorval deur die polisiebestuur ondersoek.

Hy het nie magtiging om met die media te praat nie, het hy gesê.

Bron: Netwerk 24
Skrywer: Maygene de Wee


Enjoyed this post? Share it!