Ondersoek na Guptas kan Nkandla oortref

Die ondersoek na die beweerde staatskaping deur die Gupta-familie kan selfs wyer uitkring as die Nkandla-ondersoek, aldus opposisiepartye.

Die partye het die bewilliging van R1,5 miljoen aan die openbare beskermer (OB), Thuli Madonsela, om die beweerde staatskaping te ondersoek, verwelkom.

Sodra die feite daaromtrent beskikbaar is, kan dit selfs groter as die Nkandla-ondersoek wees, vermoed die VF Plus se hoofsweep, Corné Mulder.

Hy het die ondersoek as absoluut noodsaaklik beskryf om die feite te bekom, anders sal daar altyd vrae wees oor die Guptas se invloed op die staat.

Die UDM-leier, Bantu Holomisa, meen dit handel oor grootskaalse plundery van die staatskas en moontlike samespanning. Ook die amptelike opposisieparty het die ondersoek verwelkom.

Volgens ‘n OB-woordvoerder is verskeie klagtes vanuit verskillende oorde oor die Guptas ontvang.

Dit sluit in bewerings dat die Guptas poste aangebied het aan onder meer ‘n voormalige LP, Vytjie Mentor en die adjunk-minister van finansies, Mcebisi Jonas.

Ondersoek sal ook ingestel moet word oor die omtredenheid omtrent die (kortstondige) aanstelling van Des van Rooyen as minister van finansies deur president Jacob Zuma.

Die soeklig sal ook in die Gupta-ondersoek val op tenders en staatskontrakte, mynlisensies en advertensies deur staatsdepartemente in die New Age-koerant.

 Bron:Vryburger


Enjoyed this post? Share it!