Onderwys disfunksioneel – Talle onderwysposte vakant

Teen die einde van September vanjaar was daar altesame 580 vakante onderwysposte by skole in die PWV-gebied, almal daarvan op bestuursvlak wat ʼn sterk aanduiding is hoe disfunksioneel onderwys in dié provinsie tans is.

Dit is die kommentaar van adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

In antwoord op ʼn geskrewe parlementêre vraag van adv. Alberts aan die minister van basiese onderwys, het dit aan die lig gekom dat daar vakante poste is vir 62 skoolhoofde, 109 adjunkhoofde en 409 departementshoofde.

Die minister kon nie sê waarom die poste nie gevul word nie. Sy kon ook nie antwoord op vrae oor die aantal skole, skole wat in onbruik is of die aantal nuwe skole wat gebou gaan word om die groeiende leerlingtal te akkommodeer nie.

Sy kon ook nie antwoord op vrae oor die druk op Afrikaanse skole om te verengels nie, en het gesê sy wag op antwoorde van die Gautengse onderwysdepartement.

Adv. Alberts sê dit is ʼn skande en moontlik met voorbedagte rade dat die LUR in die provinsie, Panyaza Lesufi, toelaat dat soveel poste nie gevul word nie en dat geld wat sy departement ontvang het om nuwe skole mee te bou, nie gebruik word nie.

“Deur doelbewus ʼn situasie te skep waar skole weens onderwysertekorte nie behoorlik funksioneer nie en om die druk van leerlingtalle kunsmatig te vergroot deur die versuim om nuwe skole te bou, skep Lesufi nou ʼn rede om funksionele en Afrikaansmediumskole te dwing om anderstalige leerlinge in te neem.

“Ondervinding het al geleer dat enkel-Afrikaansmediumskole eindelik totaal verengels wanneer hulle gedwing word om Engels ook te akkommodeer.

“Die geld is beskikbaar om skole te herstel, om nuwe skole te bou en die onderwysposte te vul. Dit is die VF Plus se mening dat Lesufi doelbewus versuim om dit te doen in ʼn poging om Afrikaanse skole totaal uit te roei,” sê adv. Alberts.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!