Onluste duur wyd voort in Suid-Afrika

Die land word toenemend lamgelê deur sogenaamde protesoptogte, wat dan egter gewelddadig word en waartydens groot skade aangerig word en dienslewering tot stilstand kom.

In Vanderbijlpark het sodanige onluste daartoe gelei dat mense nie kon gaan werk nie omdat paaie versper is. Die ontevredenheid was glo dat die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit tereg eis dat daar betaal moet word vir elektrisiteit, en nou’n tender aan ’n Chinese maatskappy toegeken het om sogenaamde “smart meters” te laat installeer.

In Benoni is nege mense gearresteer nadat ‘n betoging gewelddadig geword het en skade aangerig is aan openbare en private eiendom, terwyl winkels ook geplunder is. Die plaaslike brandweerstasie is sodanig beskadig, dat dit gesluit moet word en buurdorpe se brandweer moet nou op bystand wees vir Benoni ook.

By Milnerton in die Kaap moes brandbestryders die aftog blaas in hulle pogings om ‘n kliniek se brand te blus, toe die gemeenskap hulle onder die klippe gesteek het en hulle verhinder het om die kliniek en ander geboue te red. Die stadsraad het aangekondig dat sy begroting uitgeput is en nie die kliniek sal kan herstel nie.

In die berugte Soweto is drie sekerheidswagte doodgeslaan tydens ‘n betoging, en ‘n 17-jarige gewelddadige betoger is doodgeskiet. Dit het die betogingsvuur laat opvlam, met die gevolg dat treindienste in Nancefield tot verdere kennisgewing opgeskort bly. Verskeie treine is beskadig toe betogers skynbaar ontevrede was met behuising.

Bron: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!